DA is al party wat omgegee het
Van Heerdenhoffer van Krugersdorp-Wes skryf:

Ek was met vakansie toe ek ‘n oproep ontvang van iemand in Van Heerdenhof, reg oorkant die Paul Krugersaal waar ek ook woon, om my die blye nuus mee te deel dat ons uiteindelik ontslae is van die spul plakkers wat op 18 November 2008 hier oorkant die straat deur die destydse burgemeester afgelaai is. In my hart het ek gesê “Dankie tog Matthys!”
Tot my intense skok sien ek op bladsy 3 in die 14 Maart uitgawe van die NUUS daar staan ‘n wildvreemde vrou, nogal van die VF Plus, op die trappe, so asof dit nou haar party is wat vir die uitsetting verantwoordelik was.
Ploeg die VF Plus nou met ‘n ander man se kalwers? Skaam julle.
Wanneer was sy so danig betrokke by al die klagtes omtrent hierdie situasie? Seker in die aand met mantel en masker, want dis die eerste keer dat ek van haar hoor of haar sien hier in Krugersdorp-Wes.
Vir die afgelope drie jaar kry ons net terugvoer van al ons herhaalde klagtes van een mens, die raadslid vir hierdie area, Matthys van Tonder, wat van die DA is en beslis nié die VF Plus.
Gaan maar na die vergaderings van die GPF vir Sektor 5 en jy sal Matthys daar sien. Doen by die munisipaliteit navraag of kla oor die lawaai, slegte reuk of rioolwater wat in die straat afloop, en die een wat help is Matthys.
Hy het ons herhaaldelik op hoogte gehou van verwikkelings hier by die saal en ons weet hy veg al vir uitsetting nog lank voordat hy as raadslid verkies is.
Ons almal in Krugersdorp-Wes weet van al sy moeite. Gaan lees ‘n bietjie vorige uitgawes van die NUUS indien julle my nie glo nie.
