Mnr SA finalis hou fondsinsameling
Mnr Suid-Afrika finalis Armand Labuschagne samel geld vir die J9-stigting in.
Om die titel as Mnr Suid-Afrika te verower verg vriendelikheid, harde werk, entoesiasme en die vermoë om ‘n verskil in jou gemeenskap en land te maak.
Armand Labuschagne (29), ‘n giminstrukteur van Little Falls in Roodepoort is vasbeslote om te wys dat hy die deursettingsvermoë het om hierdie jaar met die kroon weg te stap.
Een van die take wat die finaliste moes voltooi was om R10 000 in te samel vir die J9-stigting wat mense met motorneuronsiekte bystaan – dieselfde siekte as dié waaraan oud-Springbok Joost van der Westhuizen ly en wie se inisiatief die Stigting is.
“Die klem was op ‘n fondsinsamelingsfunksie waarvoor die finalis self so min as moontlik geld sou bydra.” Armand het daarom ‘n klein funksie in Hoërskool Bastion se skoolsaal gehou en Krugersdorp se eie sangsensasie Candy B Benson en haar dansers het ingestem om sonder enige vergoeding sy gaste te vermaak.
Na sy funksie moes hy verslag doen aan die organiseerders en verduidelik hoe hy borge gekry het en sy funksie bemark het.
Armand vertel dat hy aan die einde van April sal weet of hy tot die volgende rondte deurgedring het.
