Local newsNews

Transnet-pensioenarisse klou aan laaste hoop

Sommiges moet leef met minder as R100 'n maand en die hof se uitspraak is hulle laaste hoop.

“Die laaste rondte van die swaargewiggeveg het aangebreek.” So het advokaat Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) vir ‘n goep Transnet-pensioenarisse in Krugersdorp vertel.

Dit was deel van ‘n toespraak wat Alberts op 30 April gelewer het tydens ‘n inligtingsessie in die Eeufeesaal oor die party se R90 miljard klasaksie-eis teen Transnet.

Die inligtingsessie is belê om pensioenarisse oor die lang verwagte hofdatum in te lig en om die bejaardes op hoogte te bring van die nuutste verwikkelinge met die grootste klasaksie-eis in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Die VF Plus het in 2013 aangekondig dat die party die eis teen Transnet gaan instel sodat die 70 000 Transnet-pensioenarisse skadevergoeding van Transnet en die regering kan eis.

“Daar is ‘n lang en moeisame pad tot hier geloop, maar ons glo geregtigheid is om die draai,” het Alberts onlangs gesê.

Die massiewe eis het gedeeltelik in die vroeë 1990’s ontstaan toe die ou NP-regering na bewering die fonds wanbestuur het deur dit nie behoorlik aan te vul nie.

Volgens Alberts skuld die regering die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) R17,4 miljard wat teen 1990 inbetaal moes gewees het. In 1988 het die NP-regering besluit om die Spoorweë in ‘n publieke maatskappy, naamlik Transnet te omskep.

Voor die stigting van Transnet het die Spoorweë-direksie en die regering ‘n oudit van die pensioenfonds laat doen en daar is bevind dat ‘n tekort van R17,4 miljard bestaan wat aangevul moet word.

Die NP-regering het egter besluit om nie die skuld aan die pensioenfonds te betaal nie aangesien hulle blykbaar nie tydens onderhandelinge met die ANC groot bedrae uit die staatskas wou betaal nie.

Dit is net een van vele wyses waarop die destydse NP-regering sy mense versaak het, sê Alberts. Die Transnet Oorgangswet het egter voorsiening gemaak dat die skuld wel statutêr gedelg moet word en dis op daardie wet dat die VF Plus se regspan staatmaak om die skuld plus rente af te dwing.

“Die huidige ANC-regering is dus nou verantwoordelik vir die betaling van daardie skuld.”

Verder het Transnet se bestuur in 2002 besluit om die T011-effekte te staak wat jaarliks groot bedrae aan die fonds laat uitbetaal het. In ruil vir die kansellering van die effekte het Transnet MCell-aandele aan die TTVVF beskikbaar gestel.

“Die probleem is egter dat die MCell-aandele se waardes baie laer was as dié van die gekanselleerde effekte en het die TTVVF met ‘n groot tekort gelaat wat nooit reggestel is nie. Daardie tekort word ook teruggeëis, plus rente.”

Die news het met ‘n paar plaaslike Transnet-pensioenarisse gesels om te hoor wat hulle verwagting is van die saak wat in die Hoogeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

Wynand van Wyk (76) van Silverfields sê dat die mediese onkostes hom platsak maak en dat die jaarlikse verhogings maar gering is.

“Ek hoop dat daar ‘n ooreenkoms bereik kan word om ‘n logiese balans te bewerkstellig,” sê hy.

Anne Mary Horn (80) se man is 20 jaar gelede oorlede na meer as 40 jaar diens as ‘n businspekteur. Sy vertel dat sy tot onlangs ‘n skrale R82 uitgekry het nadat haar mediesefonds-bydraes afgetrek is.

“Ek moes my medies kanseller en my kinders moes my finansieel bystaan om by ‘n private mediese fonds aan te sluit.”

“Ek soek nie duisende nie, ek wil net nie meer onder die broodlyn leef nie,” sê sy.

Oor die algemeen vertel pensioenarisse dat hulle nie met die lewenskoste kan byhou nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button