Transnet baas by Menseregtrekomissie na uitlating teenoor oues
Die VF Plus is van opinie dat Brian Molefe, uitvoerende hoof van Transnet 'n opmerking gemaak het wat rassisties is.
Die VF Plus gaan ‘n klag van haatspraak by die Menseregtekommissie (MRK) indien teen Brian Molefe, uitvoerende hoof van Transnet.
Die klag handel oor Molefe rassistiese en dreigende uitsprake teen pensioenarisse van Transnet, sê advokaat Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens die party volg die klag op die artikel van Sondag, 27 April, in Rapport oor die klasaksie-hofsaak van 67 000 verarmde Transnet-pensioentrekkers teen Transnet wat nou op 8 en 9 Mei in Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria begin.
Die eis beloop R79 miljard wat dit die grootste siviele eis in Suid-Afrika se geskiedenis maak.
Luidens die Rapport-berig het Molefe onder meer gesê die pensioentrekkers is “begunstigdes van apartheid wat op geen vergoeding aanspraak kan maak nie”.
“As hulle die revolusie in die strate verder wil voer, moet hulle net sê.”
Laasgenoemde is klaarblyklik aan die hand van die optog wat die pensioenarisse verlede week saam met die VF Plus na die Uniegebou in Pretoria onderneem het.
Volgens Alberts is die uitsprake van Molefe nie net onwaar nie, maar is rassisties en tas dit die waardigheid aan van die pensioenarisse wat reeds in ellende gedompel is weens die stroping van hul pensioenfondse.
