Bus slaan om: 38 kinders beseer
Motoriste het uit hul voertuie gespring om die kinders uit die bus te red.

Meer as 30 kinders is vanoggend, 9 Mei, beseer toe ‘n bus in verkeer op die hoek van Albertina Sisuluweg en John Hoatsonstraat omgeslaan het.
Volgens ‘n ooggetuie het die bus om ‘n skerp draai gery wat na John Hoatsonstraat lei toe die bus omgeslaan het.
“Terwyl die bus op sy sy gelê het, het daar rook by die vensters uitgekom. Motoriste het uit hul voertuie gespring om te gaan help.
“Een vir een het hulle die bus se ruite gebreek en begin om kinders uit te haal,” vertel die ooggetuie.
Die news is op die toneel ingelig dat die bus daagliks kinders van verskeie skole in Krugersdorp vervoer en dat die bestuurder op pad na Laerskool Millennium en die Wesrandse Skool was toe die ongeluk plaasgevind het.

Volgens die hoof van die Wesrandse Skool, Marthinus Coetzee behoort die bus aan ‘n privaat maatskappy wat deur ouers betaal word.
Hy sê ook dat die kinders wat in die bus was, tussen die ouderdom van ses en 16 jaar is.
Volgens paramedici van die Wes-Rand Distrik Munisipaliteit se nooddienste is nie een van die insittendes ernstig beseer nie maar dat hulle na nabye hospitale geneem is sodat hulle skraap- en snywonde behandel kon word.
Kliek hier om na die foto’s van die ongeluk te kyk.
