Video: Witkruisarende sit sit so
Die Witkruisarendprojeklede hoop dat die eiers hierdie jaar sal uitbroei.
Die Witkruisarend-broeipaar Emoyeni en Thulani is die rede vir groot opgewondenheid by die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Poortview.
Emoyeni het haar eerste eiers vanjaar vermoedelik tussen die laaste week in April en die eerste week in Mei in die nes gelê.
Bo van der Lecq van die Roodekrans Witkruisarendprojek sê sodra die eiers uitbroei sal daar meer duidelikheid wees oor wanneer hulle gelê is omdat dit tot 45 dae neem voor die kuikens hulle verskyning maak.
“Die eerste eier behoort teen die 12de en die tweede een teen die 15de Junie uit te broei. Aantekeninge wat oor die jare gemaak is dui aan dat die arende se eerste eier by die Botaniese Tuin gewoonlik gedurende die laat middag of vroeë aand gelê word.”
Hy sê dit neem gewoonlik ‘n bietjie langer voordat die tweede eier gelê word en dit is ook nie altyd op dieselfde tyd van die dag nie.
“Ons moet onthou dat sy al tevore onbevrugte eiers gelê het of dat haar eiers nie uitgebroei het nie, soos toe hulle onlangs ‘n tweede keer probeer het om eiers uit te broei.”
Van der Lecq noem dat die proses baie goed gemonitor gaan word om vas te stel watter een van die eiers eerste uitbroei.
“Ons hou maar duim vas dat dit ‘n normale broeiseisoen sal wees.”
