Hy was ‘n regte petrol head.
Só beskryf Marius Coetzee sy vriend en kollega Stephan Lombard (35) wat gisteroggend (23 Mei) op slag dood is in ‘n kop-aan-kop-botsing in Chamdorweg.
“Hy was lief vir motors en al die dele daarvan. Hy het altyd gespot dat sy Volkswagen Golf sy vrou is en dat al die onderdele sy kinders is,” sê hy.
Sanet Button, die persoonlike assistent van die besturende direkteur by VR Engineering waar Lombard gewerk het, sê sy skielike dood is vir hulle baie tragies.
Sy sê dat dit die eerste keer in die maatskappy se 58ste bestaansjaar is dat een van hulle werknemers in ‘n ongeluk gesterf het.
“Hy was op pad om ‘n diens te lewer toe die ongeluk gebeur het.”
Lombard en sy kollega Nicky Twiname het omstreeks 9vm met ‘n vervoertrok gebots toe hulle van Chamdor na Lewisham onderweg was.
Twiname sterk tans in die Netcare Krugersdorp Hospitaal aan nadat hy veelvuldige beserings opgedoen het.
Begrafnisreëlings vir Lombard sal volgende week getref word.
