Talle protesteer teen vroue- en kindermishandeling
Lede van die polisie, welsynsorganisasies en diensorganisasievrywilligers het deur 'n staptog bewustheid gekweek oor kinder- en vroueregte.
Cradle of Hope toevlugsoord vir vroue en kinders het Maandag (26 Mei) ‘n staptog in Munsieville gelei. Die doel daarvan was om hulle stemme dik te maak oor die mishandeling van vroue en kinders. Die inisiatief het saamgeval met Kinderbeskermingsweek.
Saam met Cradle of Hope stigter Melodie van Brakel het lede van die polisie, welsynsorganisasies, diensorganisasievrywilligers en VF Plus raadslid Amanda de Lange van die Munsieville Polisiestasie af met plakkate gestap.
Slagspreuke soos ‘ware mans koop nie vroue nie’ en ‘hou op om ons kinders seer te maak’ was op die stappers se plakkate geverf.
De Lange wat ook die nasionale voorsitter van die party se vrouekomitee is, het haar kommer uitgespreek oor die uitvoerbaarheid en bestuur van wetgewing oor vroue- en kinderregte.
“Artikel 28 van die Grondwet omskryf die beskerming van die kind. Die doel van Artikel 28 is om te verseker dat kinders in ‘n veilige omgewing groot word en daar behoorlik na hulle omgesien word,” verduidelik De Lange.
“Nieteenstaande wetgewing en honderde maatskaplike organisasies is die verwaarlosing en mishandeling van kinders aan die orde van die dag en groei die syfer steeds,” sê sy.
Sy lê klem op die talle babas wat in Suid-Afrika verwaarloos word, op ashope en in publieke toilette gelos word of selfs soos onlangs in die news berig is, lang ‘n hoofweg neergesit word.
Die dienste en betrokkenheid van polisiemanne en -vroue, maatskaplike werkers, regeringsorganisasies, vrywilligers wat alles in die stryd werp om die lewe van vroue en kinders te verander en beter te maak, is ook tydens die staptog vereer.
