Graincare pronk met fondsinsameling
Graincare, 'n niewinsgewende organisasie het 'n gholfdag gehou om geld vir minderbevoorregtes in te samel.
Al het die winterson net-net sy kop oor die Ruimsig Buiteklub uitgesteek kon dit nie die goeie gees kelder om geld vir liefdadigheid in te samel nie.
“Eintlik is hierdie weer perfek om ‘n paar balle op die gholfbal te slaan,” het die akteur Altus Theart, bekend vir sy rol as Fafa in die kykNET reeks Getroud met rugby gesê.

Hy was vanjaar die spesiale gas van Graincare, ‘n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie wat uit drie maatskappye naamlik Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics bestaan. Theart was ook die afslaer vir hulle fondsinsameling.
Verskeie ondernemings het die dag saam met Graincare geniet en gehelp om sowat R160 000 in te samel. Die geld gaan onder andere vir Graincare se liefdadigheidsprojekte aangewend word om kinders en gesinne in nood deur hulle voedingskemas te help.

Die Wesrandse Skool en die Hospice Wes-Gauteng het items gebring wat Altus ook vir hulle eie fondsinsamelingsprojekte opgeveil het.
Mariaan le Roux van Graincare sê R7 500 is op dié manier ingesamel.
“Ons het R2 500 aan die Wesrandse Skool en R5 000 aan Hospice Wes-Gauteng oorbetaal.”
Sy sê hierdie jaar se fondsinsamelingsprojek was weereens ‘n groot sukses – nie net op die baan nie maar ook na die tyd toe items oor smaaklike etes en in goeie geselskap opgeveil is.
