Geesdriftige vrywilliger samel groot hoeveelhede kos in vir oues
Een vrou samel 800 blikkies kos vir honger bejaardes in.
Danksy ‘n goedhartige Samaritaan waarvoor geen uitdaging te groot is nie, sal ‘n groep bejaardes van Krugersdorp-Wes vir ‘n rukkie nie honger hoef te gaan slaap nie.
Jessica Fitzcharles, ‘n finalis van Apprentesses for Angelique Gerber en vrywilliger vir die ATKV se liefdadigheidsprogram Vuurwarm vir Charity is onlangs die uitdaging gestel om vir 41 behoeftige bejaardes van Krugersdorp-Wes blikkieskos in te samel.
Maklik was dit nie, want sy is slegs ‘n week gegee om die kos in te samel.
Sy het die bul dadelik by die horings gepak en almal waaraan sy kon dink gekontak om ‘n bydrae te gee.
Deur middel van sosiale media het haar voormalige universiteitshuis van die projek gehoor en ‘n enorme skenking van 500 blikkies kos gedoen.
“Ek het gehoop om twee of drie blikkies aan elke huishousing te skenk maar met behulp van die koshuis kon ek toe sommer 20 blikkies kos aan elkeen gee,” vertel Fitzcharles.
Saam met ander skenkings het die vasberade vrywilliger meer as 800 blikkies ingesamel wat sy verlede Saterdag (24 Mei) oorhandig het.
“Die bejaardes se dankbaarheid was oorweldigend,” vertel sy.
Volgens Fitzcharles het die projek haar geleer dat, “eers wanneer jy sien wat ander nié het nie, besef jy weer wat jy als hét.”
“Ek daag ander uit om ‘n bietjie te gaan kyk waar die nood groot is, vir ’n rukkie daar te bly en te sien hoe geseënd jy werklik is,´sê sy.
