CrimeNewsUpdate

OPVOLG: Jong man se liggaam agter nagklub: Moorddossier geopen

Die oorsaak van Coetzee se dood was aanvanklik ‘n raaisel vir die gemeenskap, sy gesin en die polisie omdat daar geen uitwendige beserings was nie.

Tinus Coetzee (18) se familie soek antwoorde nadat sy liggaam Sondagoggend (1 Junie) in ‘n sloot in Burgershoop gevind is.

Coetzee se ma, Monica Jansen van Rensburg praat nog moeilik oor die oomlik toe sy die tyding gekry het.

“Die nuus dat die liggaam van ‘n jong man agter ‘n bekende nagklub in die area gevind is, het daardie oggend vinnig in die gemeenskap versprei,” vertel sy.

Sy sê dat sy nooit in haar wildste drome kon dink dat dit haar kind is nie. Net voor middagete was daar egter ‘n klop aan haar deur en minute later moes sy haar seun se liggaam gaan uitken.

Die oorsaak van Coetzee se dood was aanvanklik ‘n raaisel vir die gemeenskap, sy gesin en die polisie omdat daar geen uitwendige beserings was nie.

“Daar was talle onbeantwoorde vrae en gerugte dat my seun se dood aan ‘n oordosis dwelms toegeskryf kan word,” sê Jansen van Rensburg.

Sy noem dit moederlike instink dat sy vermoed het dat haar kind vermoor is.

Toe ‘n formele staatsdokument met die uitslae van die nadoodse ondersoek in haar hande gesit is, is haar vermoede bevestig.

Erge hoofbeserings, inwendige bloeding, gebreekte ribbes, ‘n geskeurde gorrel en rou keel word in die verslag genoem.

“My kind is aangerand, hy is vermoor, hy is wreed doodgemaak – dit is die woorde wat deur my kop gemaal het.”

Die nuwe verwikkelinge het daartoe gelei dat die Krugersdorpse polisie nou ‘n saak van moord ondersoek.

Volgens Krugersdorp SAPD-woorvoerder Tshepiso Mashale hanteer die speurafdeling die saak.

‘n Gedenkdiens word vandag (6 Junie) vir Coetzee gehou.

“Sy sin vir humor en pittige opmerkings is wat ek die meeste gaan mis. My kind se plek is leeg en ek sal vir ewig na hom verlang,” sê sy ma.

Man (18) dood gevind agter nagklub

3 Junie 12.01nm

Die liggaam van ‘n 18-jarige man is Sondagoggend 1 Junie agter ‘n bekende nagklub in Burgershoop gevind.

Volgens Krugersdorp Polisie-woordvoerder Tshepiso Mashale is polisiebeamptes omstreeks 10vm na die toneel ontbied nadat ‘n verbyganger op die liggaam afgekom het.

Mashale sê dit is op hierdie stadium van die ondersoek onwaarskynlik dat die man se dood aan misdaad verwant is, ten spyte van die gerugte dat die man se keel gesny is en dat hy dood geslaan is.

“Daar is geen steek of skietwonde aan die liggaam aangetref nie,” sê sy.

Sy sê dat die moontlikheid van misdaad steeds ondersoek sal word en dat ‘n nadoodse ondersoek die volgende stap is om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Sy doen ‘n beroep op die gemeenskap om die Krugersdorpse Polisie by 011 951 1111 te skakel indien enigiemand meer inligting in verband met die saak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button