Local newsNews

Vergeet van kook op dié dag

Die Hospice Wes-Gauteng tak nooi die gemeenskap uit om hulle Wintermark aan die einde van Junie saam met hulle te kom geniet.

Met ‘n beker warm sop in die hand kan die winterseisoen nie op ‘n beter manier ingewy word nie.

Daarom moedig Hospice Wes-Gauteng, ‘n niewinsgewende organisasie wat palliatiewe sorg bied vir mense met terminale siektes, die gemeenskap aan om hierdie maand vir ‘n dag te ontspan en van afsloofwerk voor die kospotte te vergeet.

Hulle gaan ‘n wintermark asook ‘n potjiekoskompetise hou waar daar lekker gekuier en groot pryse gewen kan word.

Renzia van Zyl, die bemarkingskoördineerder van dié Hospice tak sê die wintermark gaan vet pret wees.

Sy sê daar gaan stalletjies met ‘n verskeidenheid goedere te koop wees en heerlike kos soos vetkoek, pannekoek, kerrie en rys, sop en nog wat sal op die spyskaart wees.

“Mense moet sommer hulle eie houers vir sop saambring, want dan kan ons genoeg vir die hele gesin uitskep,” sê Van Zyl opgewonde.

Om dit meer pret vir die hele gesin te maak sal daar musiek, springkastele, ‘n vlooimark, teetuin en nog vele meer wees sodat almal tevrede sal wegstap.

Boekwurms kan al Hospice se boeke wat te koop is, kom deurkyk en daarna in die lewens van die boekkarakters deel met ‘n beker warm sop of koffie in die bed tuis.

“Ons gaan ook al die kunswerke uit ons winkels by die Wintermark uitstal, so kunsliefhebbers is meer as welkom om te kom kyk watter van hierdie kuns hulle leefruimte sal ophelder,” sê Van Zyl.

Diegene wat hulle troeteldiere vir ‘n uitstappie wil neem is meer as welkom om hulle saam te bring, want daar is selfs iets vir hulle.

“Daar sal iemand wees wat jou honde sal pamperlang terwyl jy by die stalletjies kuier.”

Sy sê in die potjiekoskompetisie gaan die potjiekoskoning of -koningin aangewys word, en boonop kan iemand ‘n heerlike wegbreekkans wen wat deur Mogale Country Lodge geborg word.

Die Wintermark sal op 28 Junie van 9vm tot 2nm by Hospice Wes-Gauteng se perseel by Burgerstraat 051 en 053 in Krugersdorp se sakekern gehou word.

Van Zyl sê dat al die geld wat hulle daaruit maak in Hospice teruggeploeg sal word. Hulle sal hulp in enige vorm waardeer.

Vir meer inligting byvoorbeeld oor hoe om ‘n stalletjie te bekom of ‘n inskrywingsvorm vir die potjiekoskompetisie te kry, kan vir Van Zyl of Barbara Crawford by 011 953 4863 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button