Oefening en sweet is man se kos
'n Man wat voorheen 302kg geweeg het, het besluit om dié gewig af te skud sodat hy meer vir sy gesin kan doen.
Om eendag sy seun op die rugbyveld te sien uitdraf was van die redes waarom ‘n man van West Village besluit het om minder as 302kg te weeg.
“Nou terg my kinders my lekker en help my gou reg as ek dit net sou waag om enige ongesonde kos te probeer eet” — John Barnardt
John Barnardt (37) het meer as ‘n maand gelede by Sportcon Fitness & Performance Centre by die Anthos Sentrum in Voortrekkerweg aangesluit waar hy tot dusver reeds van meer as 27kg en 43cm ontslae geraak het.
“Ek het besluit genoeg is genoeg. My gewig het my gesinslewe asook my gesondheid begin affekteer en ek het besef ek sal iets daaromtrent moet doen.”
Hy sê selfs al het hy net klein endjies gestap was hy daarna uitgeput en sy rug was seer. Hy het ook noodsaaklike, basiese huistakies afgeskeep.
“Daarom het ek besluit om van my oortollige gewig ontslae te raak, want met dié swaar lyf is dit moeilik om te werk. My hoofdoel is om my gesin te ondersteun en vir hulle als van die beste te gee.”
Hy het dit egter nooit oorweeg om by ‘n gim aan te sluit nie.
Barnardt sê hy het baie produkte vir gewigsverlies probeer, maar omdat dit te duur is om daarmee vol te hou het hy dit gestaak.
“Ek wou nie by die reeds fikse gurus hoor wat ek moet doen nie of uitgelag word oor my gewig nie. Ek was verbaas toe ek uitvind dat een van Sportcon se fiksheidinstrukteurs in dieselfde posisie as ek was.”
Hy verwys na Etienne du Bruyn, wat 165kg geweeg het en nou maklik twee keer te klein is vir sy hemp wat hy nog twee jaar gelede kon aantrek.
“Toe ek uitvind oor sy geskiedenis en ook hoe hy besluit het om van sy gewig ontslae te raak het ek besef dat ek dit ook kan doen,” sê Barnard.
“Hy is ‘n baie groot inspirasie en ek hoop om nou self ander mense te inspireer.”
Voorheen as hy gestap het, het dit vir hom gevoel asof hy ‘n marathon gehardloop het, maar na talle gimsessies gaan dit al beter.
“Snags kon ek ook nie slaap nie omdat my rug te seer geword het, maar deesdae kan ek regdeur slaap en dit is wonderlik.”
Barnardt sê sy gewig is nie, soos mense dink, die gevolg van te veel eet nie.
“Ek eet eintlik baie min – maar as gevolg van ‘n baie stadige metabolisme en ander mediese probleme het ek net groter en groter begin word.”
Hy verduidelik dat hy ten spyte van sy gewig steeds gesond was en gelukkig nog geen tekens van hartprobleme of diabetes getoon het nie.
“Nou terg my kinders my lekker en help my gou reg as ek dit net sou waag om enige ongesonde kos te probeer eet,” lag hy.
Sy vrou Cindy (34) het saam met hom begin oefen om hom te ondersteun. Sy self het al meer as 14kg en 12cm verloor.
“Vir ons is dit lekker om gim toe te gaan en by mense te hoor hoe hulle reeds ‘n verskil kan sien.”
Dit is sy mikpunt om voor die einde van die jaar 120kg af te skud.
“Dit voel of ek ‘n berg klim, maar dit is alles die moeite werd!”
