Local newsNews

Dosyn bondeltjies liefde beland by Fora

Twaalf katjies en twee mammakatte is by Fora afgelaai, maar sommige van hulle het toe 'n onbekende ma.

‘n Wyfiekat moet vir 12 katjies ma speel al is almal nie haar eie nie.

Linda Scrace, die waarnemende dierehawebestuurder van Fora sê ‘n man en sy twee kinders het ‘n paar weke gelede by die diereskut opgedaag. Hy het twee bokse gebring waarin twee mammakatte en hulle katjies was.

“Ons het aan hom verduidelik dat ons ongelukkig nie plek het vir nog diere nie. Hy het toe gal afgegaan en gesê dat hy dan die katte in die veld gaan los as ons hom nie kan help nie.

“Watter voorbeeld stel hy vir sy kinders?”

“Mense speel altyd die emosionele kaart met diereskutte en omdat ons nie wil hê die katte moet in die veld weggegooi word nie het ons hulle toe ingeneem al is ons reeds vol.”

Scrace sê sy het die katte en hulle kleintjies in twee aparte hokke gesit, maar toe sy later gaan kyk hoe dit met hulle gaan het sy gesien iets is nie pluis nie.

“Die een mammakat het met sulke groot oë na my gekyk asof sy vra: ‘wat maak die katjies by my?'”

Sy het al dié katjies saam met die ander mamma in die hok gesit en na 15 minute het hulle aan haar gesoog.

“Ek het agtergekom dat die een kat nie eens ‘n mamma is nie en dat van die katjies ook nie die ander mamma se katjies is nie.”

Scrace sê toe sy dit uitvind was sy baie ontsteld.

“Daar word nou baie druk op dié mammakat geplaas om ook vir al die ekstra katjies te sorg. Sy is ook in gevaar omdat die ander katjies haar met siektes kan besmet.

“Intussen lyk dit vir my of sy die situasie goed hanteer.”

Scrace sê sodra die katjies oud genoeg is en al die toetse gedoen is om seker te maak dat hulle gesond is, sal hulle vir aanneming beskikbaar wees.

Vir meer inligting kontak Scrace by 072 413 5364.

Soortgelyke stories:

‘n Handvol diereliefde

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button