‘n Man wat op R1 500 borg uit is nadat hy deur Muldersdrift-polisie vir diefstal gearresteer is, het glo in Lenasia, suid van Johannesburg, ‘n motoris doodgeskiet en ander mense beseer, berig The New Age.
Volgens die berig het die man Sondagaand in ‘n kroeg gekuier. Hy het glo in ‘n geveg met ‘n ander persoon betrokke geraak voor hy gevra is om die kroeg te verlaat.
Die man was toe glo in ‘n motorongeluk betrokke maar het weggery. Die bestuurder van die ander motor het agter die man aangery tot by sy huis waar ‘n woordewisseling ontstaan het.
Die man het toe glo die motoris doodgeskiet en ander mense is beseer. Ofentse Morwane, woordvoerder van die Gautengse Departement van Korrektiewe Dienste, het aan The New Age bevestig dat die man vroeër op borg vrygelaat is nadat hy vir diefstal in hegtenis geneem is.
Kolonel Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n saak van moord ondersoek word maar wou geen verdere besonderhede oor die voorval gee nie.
Die verdagte is steeds op vrye voet.
