Koskas sien dié speseryeblikkie nie weer
'n Gemengde Speserye-blikkie van 53 jaar het sy plekkie in 'n 70-jarige inwoner se vertoonkas in haar sitkamer gekry.
Tussen al Alida Jordaan, 70, se ander sentimentele besittings in haar vertoonkas het ‘n Gemengde Speserye-blikkie van 53 jaar oud ook sy eie plekkie gekry.
Jordaan van Luipaardsvlei was 17 jaar oud toe sy, haar nou oorlede man Tony en haar toe drie-maande-oue dogter Hester vir die eerste keer saam inkopies gaan doen het.
“Die Checkers in Germiston het net oopgemaak en natuurlik was ons heel opgewonde om saam inkopies te doen,” vertel sy.

“Ek onthou hoe ek als wat ek kon, ingepak het; of ek dit sou gebruik of nie!”
So het die Gemengde Speserye-blikkie ook in een van die twee trollies “wat oorlopens toe vol was” beland.
Die inkopies het hulle toe ses pond gekos – net meer as R107 volgens vandag se wisselkoers.
Onder die blikkie is daar nog met ‘n permanente pen geskryf dat dit 12 sent kos.

Sy sê sy kan nie onthou of sy ooit die speserye in die blikke gebruik het nie, maar dit het op die een of ander manier deur die jare steeds in haar huis gebly.
“Ons het eers in Primrose aan die Oos-Rand gebly voordat ons later na die Wes-Rand verhuis het. Ek dink ek het dit nooit weggegooi nie omdat ek te sentimenteel is.” Dit is ook die enigste item wat sy het om haar te herinner aan die inkopies van 1961 en hoe opgewonde sy was om items in die trollie te laai.
“Of miskien laat dit my terugdink aan my eerste poging om kos daarmee te probeer maak,” lag sy dat die lagplooie om haar oë trek.
“Oor die algemeen gooi ek ook nie maklik goed weg nie.”
Toe sy gevra is hoekom dit in die vertoonkas in haar sitkamer en nie eerder in die kombuiskas gehou word nie, sê sy: “Ek is te bang ek gebruik dit dalk net en dan is dit klaar”.
Jordaan wil weet of daar ander mense in die gemeenskap is wat ook so sentimenteel is. Laat weet vir news-joernalis Jacobus Myburgh by 011 955 1130 of per epos by jakesm@caxton.co.za.
