Twee bejaarde inwoners is op hul kleinhoewe duskant Krugersdorp oorval deur drie mans wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.
Nick (61) en Angel (58) du Toit het besluit om van die nare ervaring te vertel om bewusmaking te kweek oor die modus operandi van die diewe wat na bewering die groter Wes-Rand teiken.
Angel vertel dat ‘n man in polisie-uniform net na 7nm op Vrydag 1 Augustus aan haar TV-kamer se venster geklop het, en beveel het dat sy die voordeur oopmaak.
“Toe ek die deur oopmaak het daar drie mans, waarvan een ‘n polisie-uniform aangehad het, in my deur gestaan,” vertel sy.
Daar was ‘n vierde man in boeie en die drie mans het vertel dat die man van diefstal aangekla word.
Die man in uniform het beveel dat die Du Toits ‘n woonstel op hulle erf waar hul huishulp woon, moes oopsluit omdat daar vermoedelik gesteelde goedere gestoor word.
“My man het gaan oopsluit en ek het in die huis gebly. Toe hy by die woonstel kom het hy begin om onraad vermoed omdat die sogenaamde dief nie meer geboei was nie,” vertel Angel.
Hy het teruggestap huis toe en is deur een van die mans oorval.
Nick is erg aangerand en met ‘n vuurwapen, vermoedelik ‘n BB-geweer in die gesig geslaan, maar hy het teruggeveg.
“My man was ewe skielik in ‘n bloedige stoeigeveg betrokke, en ek het ‘n besem gevat en oor sy skouer geslaan om die mans te probeer afweer,” sê Angel.
Na minute kon die Du Toits dit regkry om al die mans tot buite die huis te dwing, waarna hulle die huis gesluit het en familielede en die polisie ontbied het.
Volgens Angel is daar sprake dat dieselfde groep mans ander inwoners aan die Wes-Rand probeer teiken het.
Alhoewel die voorval nie in die Krugersdorp-polisiëringsgebeid plaasgevind het nie, sê Krugersdorp-polisiewoordvoerder Tshepiso Mashale dat daar al soortgelyke gevalle in die area was waar rowers hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.
Sy beveel dus aan dat inwoners op hul hoede moet wees as vreemdelinge, selfs in polisie-uniform hul erf betree.
Volgens Mashale het inwoners die reg om op polisiebeamptes se aanstellingsertifikaat aan te dring as bewys dat hulle is wie hulle voorgee.
Sy voeg by dat die sertifikaat met naamplaatjies moet korreleer.
Indien dit nie gedoen kan word nie sê sy moet inwoners dadelik hulle sektorbeamptes kontak om uit te kom en die proses verder te voer.
