Caxton ondersteun Mullies se groen projek
Caxton Wes-Rand skenk koerante vir 'n groen doel.
Caxton Wes-Rand het onlangs van hul gebruikte koerante aan Laerskool Muldersdrift geskenk as ‘n bydrae tot die skool se deurlopende herwinningsprojek.
Leerlinge van Graad 00 tot Graad 7 neem aan die projek deel en volgens projekkoördineerder en onderwyser Shantel Small bring dit beslis die kompeterende kant van leerlinge en onderwysers uit.
“Die kompetisiegees loop hoog omdat daar elke kwartaal vir die onderwyser en klas wat die meeste blikkies, plastiek en papier insamel, lekker pryse is om te wen,” sê Small.

Elke Maandag word die leerlinge se herwinningsmateriaal ingesamel en ‘n opname word gedoen.
“Punte word toegeken vir elke sak wat volgemaak kan word,” verduidelik Small.
Die restaurant Doppio Zero voorsien aan die einde van elke kwartaal pizza-gekenkbewyse vir die leerling en onderwyser wat die meeste rommel herwin en ‘n pizzapartytjie word vir die wenklas gehou.

Small verduidelik dat die skool met die projek beoog om kinders aan te moedig om te hewin en na hulle omgewing om te sien.
“Ons wil die gewoonte by kinders kweek om groen te dink,” sê sy.
