Gekaapte bakkie teruggevind
Die bakkie is met vervalste nommerplate in Chamdor teruggevind.
Enkele ure nadat ‘n splinternuwe Ford Ranger bakkie in Shannonweg, Monument gekaap is, is dit teruggevind.
Tshepiso Mashale, woordvoerder van die Krugersdorp Polisie sê vier gewapende mans het vroeg verlede Donderdag (21 Augustus) die bestuurder van die bakkie uit die voertuig gestamp en daarmee weggejaag. Die kapingslagoffer is nie beseer nie.
Polisielede van verskeie stasies is dadelik oor die kaping ingelig. Die Gemeenskapspolisiëringsforum het ook blitsig gereageer en na die voertuig begin soek.
Mashale sê die bakkie is later verlate met vervalste nommerplate in die industriële gebied Chamdor gevind.
Die verdagtes ry vermoedelik in ‘n wit Chevrolet Lumina waarvan die registrasienommers met WHX begin. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
‘n Bron na aan die ondersoek sê die modus operandi van motordiewe en -kapers is om ‘n voertuig te steel en dit dan iewers met die sleutels daarin te los.
Dit word gedoen om vas te stel of die voertuig ‘n opsporingstoestel het. Indien dit na ‘n paar uur nie deur die betrokke opsporingsmaatskappy of die polisie teruggevind word nie, is dit makliker om daarmee te vlug.
Die bron sê veral nuwe voertuie word geteiken omdat die meeste daarvan nog nie ten volle by die registrasieowerhede geregistreer is nie.
