Cash Crusaders in Pretoriastraat se deure is Maandag (25 Augustus) vir besigheid gesluit nadat ‘n gewapende roof vroegoggend daar plaasgevind het.
Volgens Tshepiso Mashale, woordvoerder van die Krugersdorp Polisie het drie mans hulle as klante voorgedoen voordat hulle hul wapens uitgepluk en die bestuurder, werknemers en klante daarmee gedreig het.
“Almal is gedwing om waardevolle items in sakke te sit. Die bestuurder moes die kluis oopsluit sodat hulle die geld en juwele kon steel.”
Sy sê lede van die publiek het gesien wat gebeur en het die polisie gekontak.
Mac van Zyl, operasionele bestuurder van EPR Sekuriteit sê een van hulle klante wat ‘n besigheid in die straat bedryf, het hulle gekontak en hulle is ook blitsig daarheen.
Mashale sê toe die verdagtes agterkom dat ander mense die rooftog gesien het, het hulle die sakke met die gesteelde goedere net daar laat lê en gevlug.
“Een van die verdagtes is deur lede van die publiek aangekeer en is op die toneel deur die polisie in hegtenis geneem.”
Van die gesteelde goedere is ook in die verdagte se voertuig gevind.
Sy sê die verdagte sal binnekort in die Krugersdorp Landdroshof verskyn op aanklag van roof en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die personeel van die onderneming was gister nog te geskok om met die media te praat en het alle navrae na hul hoofkantoor in Kaapstad vewys.
Die Kaapstadse hoofkantoor het aan die news bevestig dat die werknemers almal berading sal ontvang.
“Niemand is tydens die voorval beseer nie,” sê Mashale.
