CrimeLocal newsNews

Uiteindelik ‘n polisiëringsforum vir Mindalore?

Die Kolonel doen 'n beroep op die gemeenskap om die nuwe GPF te ondersteun.

Mense van Mindalore en Lewisham het verlede maand ‘n vergadering bygewoon waar hulle ingelig is oor die stigting van ‘n Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir SAP Sektor 9.

Hierdie sektor strek oor Lewisham en Mindalore en beslaan dus twee wyke. ‘n Besorgde inwoner, Leon Ehrke, het die inisiatief geneem om die GPF op die been te bring.

Ehrke is bygestaan deur DA-raadslede Hetta Kruger (Lewisham) en De Waal Venter (Mindalore).

Gert Jonker, hoof van die GPF-strukture in Mogale City het die vergadering toegespreek. Hy sê dat misdaad net doeltreffend bekamp kan word wanneer die inwoners betrokke raak.

“Inwoners is die oë en ore van die gemeenskap. Hulle weet waar daar misdadige bedrywighede is en wie die mense is wat misdaad pleeg. Met hierdie inligting kan die polisie baie meer doeltreffend optree.”

Nog ‘n belangrike funksie van ‘n GPF is om toesig te hou oor die werk wat die polisie doen. Vergaderings word gereeld gehou waar die sektorpolisie aan die GPF oor die stand van misdaad in die gebied rapporteer, en waar gesamentlik beplan word om misdaad hok te slaan.

Kolonel Mollegae van die Krugersdorpse Polisie het daarna sy hele span misdaadbekampers aan die vergadering voorgestel. Hy het genoem dat nadat die vorige GPF ontbind het, ‘n nuwe struktuur nodig was. Hy het die kontaknommers verskaf van die sektorpolisie in Sektor 9 asook ‘n nommer wat mens kan skakel indien jy nie die sektorpolisie kan bereik nie. Hierdie nommer word 24 uur per dag beman. Dit is 082 337 1293. Die sektorpolisie se nommers is 071 675 7055 en 071 675 7056. Adjudant-offisier Thomas Mlambo is die hoof van die Sektor 9-sektorpolisie. Skakel hom by 079 8863 823 en 073 1474 744.

Mollegae het vertel dat daar ‘n paar kundiges in sy span is. Hulle fokus daarop om diegene wat onder meer by misdaad teen kinders, die onwettige handel van tweedehandse goedere en drank betrokke is, aan die pen te laat ry.

Die Kolonel doen ‘n beroep op die gemeenskap om die nuwe GPF te ondersteun. Dit is slegs met die hulp van die gemeenskap dat misdaad doeltreffend bestry kan word.

Ehrke het gesê dat die volgende vergadering waartydens die nuwe komitee verkies sal word op 13 September om 9.30vm in die NG-gemeente se saal op die hoek van Morcom- en Stationstraat gehou sal word. ‘n Bestuur moet uit inwoners van Sektor 9 verkies word.

“Kom mense, laat ons saamwerk!” het Ehrke gesê.

“En laat ons misdaad vir eens en altyd vasvat hier, en ons strate en huise veilig maak sodat ons weer rustig en in vrede kan leef.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button