Monument Dam amper weer tops
Die Monument Dam was vroeër vanjaar in die kollig oor die toestand waarin die voëlbewoners en die dam verval het.
Die Monument Dam en sy nabye omgewing lyk blinkgevryf.
Na talle klagtes van die gemeenskap oor die toestand van die dam die afgelope jaar het Key West winkelsentrum se bestuur en die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit hande gevat om dit weer een van die beste ontspanningsgebiede in die dorp te maak.
Die news het die dam saam met bestuurslede van die sentrum besoek om te hoor wat reeds gedoen is en wat nog beplan word. Karla Liebenberg, sentrumbestuurder sê hulle het opvangnette aangebring by die stormwaterafvoerpype wat by die dam inloop om die meeste rommel te keer voordat dit in die dam beland.
Tien vullisdromme en twee betonbanke en -tafels is om die dam geplaas sodat besoekers in ‘n skoner omgewing kan sit en kuier.

Chris Smith, operasionele bestuurder sê die gras wat tussen die plaveistene gegroei het is ook verwyder en sal in die toekoms gereeld gedoen word.
“Ons werk saam met die stadsraad om die area te onderhou. Die gras word regdeur die jaar gesny en mense met rolstoele kan ook nou al langs die dam ry omdat ons vir opritte gesorg het.”
Hy sê dit is ‘n voortdurende proses om die dam en die area skoon te hou. Hulle het ‘n werker aangestel wat gereeld die rommel in en om die dam verwyder.

Liebenberg sê verskeie kennisgewingborde is al langs die dam opgerig om aan te dui waar mense mag en nie mag hengel nie. Enigiemand wat dié reëls oortree kan beboet word of daar kan op hulle hengeltoerusting beslag gelê word, of albei.
Sy sê hulle raai mense aan om nie meer die ganse by die dam te voer nie, omdat hulle getalle klaar te hoog is.
“Die ganse en eende raak met tye so baie dat hulle verkeersprobleme veroorsaak en in die proses beserings opdoen in voertuigbotsings.
“Ons verwag dat die getalle binnekort weer gaan toeneem namate die ganse en eende na die dam terugkeer omdat hulle weet waar hulle kos gaan kry. As hulle nie meer gevoer word nie en self moet gaan kos soek sal hulle dit dalk op ‘n ander plek doen.”
Die munisipaliteit sal heel waarskynlik optree teen diegene wat nie gehoor wil gee om op te hou om hierdie diere te voer nie.

Smith sê daar gaan nog verskeie klein ontwikkelings plaasvind, soos die nuwe voetbruggie wat gebou gaan word.
“Op die oomblik kan van die voetpaadjies van die dam na die winkelsentrum nie gebruik word nie as gevolg van bouwerk. Al die bouwerk behoort egter teen einde November afgehandel wees,” sê hy.
Werkers is ook besig om die damoewer skoon te maak om plek te maak vir spoelklippe wat daar geplaas gaan word.
Indien daar diegene is wat ‘n groot genoeg perseel het en van die ganse en wit eende wil hê kan hulle Key West by 011 273 0400 kontak sodat die nodige reëlings met die munisipaliteit getref kan word. Dit sluit egter nie die wilke kolganse in nie, omdat natuurbewaring eers permitte daarvoor moet uitreik.
Verwante stories:
• Dam en sy bewoners word afgeskeep
