Duurder krag? Nee wat…
Vandat hulle gedwing is om die voorafbetaalde meters met konvensionele meters te vervang het hulle elektrisiteitskoste met amper R1 000 gestyg.
‘n Inwoner van West Village maak nou van ander maniere gebruik omdat sy nie meer die hoë elektrisiteitskoste kon bekostig nie.
Vicky Eppel woon reeds 19 jaar lank in West Village. Sy sê vandat sy en haar gesin gedwing is om hulle voorafbetaalde meters met konvensionele meters te vervang het die elektrisiteitskoste met amper R1 000 per maand gestyg.
West Rand Power Distributors (WRPD) wat die elektrisiteit voorsien, het in Maart vanjaar al die voorafbetaalde meters laat verwyder omdat dit glo verouderd is.
“Die meters het goed gewerk vir ons!”
Eppel sê sy gebruik reeds twee maande lank nie meer WRPD se dienste nie.
“Ek het besluit om eerder my gasstofie vir kos en warm water te gebruik. Snags maak ek van ‘n kragopwekker gebruik vir ligte en om televisie te kyk.”
Sy sê sy skuld WRPD nog geld en is in die proses om dit af te betaal, maar is nie seker of sy weer haar elektrisiteit by hulle sal laat aansluit nie.
“My elektrisiteitsverbruik kos my nou baie minder – dit kos my klaar R400 om my gasstofie te laat hervul, maar ek hoef dit net elke vier maande te doen.”
Verwante artikels:
• Gemoedere loop weer hoog oor kragvoorsiening
