Local newsNews

Video: Plaaslike kroeg brand amper tot op die grond

'n Plaaslike kroeg het oor die naweek miljoene rande se skade gely toe die grasdak aan die brand geraak het.

Amper R3 miljoen se skade is Saterdag 4 Oktober aangerig toe ‘n plaaslike kroeg ure voor die kragmeting tussen die Springbokke en die All Blacks aan die brand geraak het.

Jenny Theron, eienaar van Jenny’s Pub langs die N14-hoofweg in Muldersdrift sê hulle het reggemaak vir die groot getal gaste wat hulle sou onthaal toe die eienares van die haarsalon net langs die kroeg die brand voor 10vm raakgesien is.

Jenny Theron, eienares van Jenny's Pub en Rainhard le Grange by die oorblyfsels van die grasdak.
Jenny Theron, eienares van Jenny’s Pub en Rainhard le Grange by die oorblyfsels van die grasdak.

“Ek het dadelik die brandweer gekontak. Terwyl ons vir hulle gewag het, het ons en van die gaste die dak met ‘n brandslang begin natspuit en van die gras uit die dak getrek.

In daardie stadium was die skade nog minimaal en het die vuur nog geen skade aan die kombuis aangerig nie, maar dit was van korte duur.

Tshepo Sepofu verwyder die oorblywende gras in die kombuis.
Tshepo Sepofu verwyder die oorblywende gras in die kombuis.

“Ons het als probeer, maar ongelukkig kon ons nie die kombuis red nie. Met almal se hulp het ons darem die vuur van die kroegarea af weggehou.”

Rainhard le Grange, wat betrokke is by Jenny’s Pub se dryfbaan, sê die dag voor die tragedie het die kroeg ‘n rekord behaal.

“In die amper drie jaar sedert die kroeg sy deure oopgemaak het, was dit die dag waarop ons die meeste mense nog hier gehad het. Ons sou vir seker daardie rekord dié Saterdag oortref het.”

Van die kombuistoerusting wat in die slag gebly het.
Van die kombuistoerusting wat in die slag gebly het.

Theron sê behalwe vir die skade aan die gebou is al haar kombuistoerusting, koelkamers en yskaste met derduisende rande se kos, professionele musiektoerusting en tafels ook beskadig.

“Dit is groot skade en ‘n groot verlies aan inkomste.”

Sy sê sy het tans 16 werknemers asook byvoorbeeld plaaslike sangers wat gereeld daar optree.

“Hulle almal het gesinne waarvoor hulle moet sorg. ‘n Mens het ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle.”

Sheila Mupfuri en Rachek Ndlovu, kelners van Jenny's Pub, besig om van die swart gebrande kombuisware te was.
Sheila Mupfuri en Rachek Ndlovu, kelners van Jenny’s Pub, besig om van die swart gebrande kombuisware te was.

Theron sê elke dag wat sy nie sake doen nie, word die verlies groter.

“Ons hoop om die kroeg weer binnekort aan die gang te kry, al is die kombuis nie meer daar nie. Ons kan vir die tydperk steeds pizzas verkoop, omdat die pizza-oond is die kroeg area is.”

Sy skerts en sê vir dié wat belangstel is daar solank gerookte hoender en beesvleis op die spyskaart.

Theron het ook haar misnoeë teenoor die brandweer te kenne gegee. Sy is ontsteld omdat hulle glo die vuur kon gekeer het.

Van die kombuistoerusting wat in die slag gebly het.
Van die kombuistoerusting wat in die slag gebly het.

“Hulle het omtrent 25 minute geneem om tot hier te kom. Toe hulle hier is, toe sukkel hulle eers om hulle brandweerklere aan te trek. Daarna moes hulle na die brandkrane soek wat oorkant die pad was – alles was net ‘n groot gemors, want die meeste van die inhoud kon gered gewees het!”

Theron noem dat hulle selfs gesukkel het om die leer van die brandweerwa af te haal en dat van die gemeenskapslede, insluitend Le Grange moes hand bysit en hulle daarmee help.

Sy bedank die gemeenskap wat vinnig ingespring het om te help.

Die news het Gerhardt Nieuwoudt, bevelvoerder van die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit se Nooddienste gekontak. Hy sal binnekort kommentaar lewer.

Die brandweer ondersoek tans die oorsaak van die brand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button