Beroofde ongelukslagoffer weer tuis
Die motorfietsryer wat verlede maand in 'n ernstige ongeluk in Krugersdorp-Noord betrokke was, sterk tuis aan.
Die man wat verlede maand in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke was en op die toneel beroof is, sterk tans by die huis aan.
Quinten Wagner, 20, was op 5 September in ‘n ongeluk met ‘n bakkie betrokke waartydens albei sy arms, ses ribbes en ‘n sleutelbeen gebreek is. Hy het ook baie bloed verloor en is ses eenhede bloed in die hospitaal toegedien.
Sy ma Monique sê sy is baie bly dat hy weer by die huis is, want die daaglikse besoeke aan die hospitaal het haar begin uitput.
“Hy praat nog nie oor die gebeure nie, so ons weet nie of hy kan onthou wat gebeur het nie.”
Ooggetuies op die toneel het gesê nadat hy van sy motorfiets afgestamp is, is hy deur sowat 20 omstanders oorval wat hom aan sy arms rondgesleep het en van sy persoonlike items beroof het. Hulle het ook oor sy skoene baklei.
Monique sê ten spyte hiervan kon hulle nog nie ‘n saak by die polisie open nie omdat haar seun nog nie oor die gebeure kan praat nie.
“Die prokureur is tans besig om die saak te hanteer asook om te kyk of ons ‘n derdepartyeis kan instel.”
Wagner moet in die volgende paar weke opvolgbesoeke aan spesialiste, die neuroloog en die ortopediese chirurg bring.
“Hy behoort eers later fisio te kry, want die spiere aan sy arms moet volgens die dokter eers weer heg,” sê sy.
Verwante artikel:
• Beseerde word van ventilator gespeen
