CrimeLocal newsNews

Thomas se ouers bly hoop

Shamley is een van verskeie getuies wat Semitjie se vonnis sal help bepaal nadat hy vroeër vanjaar op aanklag van roekelose en nalatige bestuur skuldig bevind is.

Amper drie jaar het verloop sedert Mindalore-inwoner en Bastion-oudleerling Thomas Ferreira in 2011 deur blouligbestuurder Joseph Motsamai Semitjie van sy motorfiets afgestamp is en ernstige beserings opgedoen het.

Die saak wat sedertdien in die hof sloer is onlangs weer aangehoor, en die keer moes ‘n neuroloog getuig oor Thomas se fisiese vordering en welstand.

Dr Desmond Shamley het in die Krugersdorp Landdroshof verduidelik dat daar in hierdie stadium geen vooruitsig is dat die jong Ferreira verder betekenisvol sal herstel nie.

Volgens Shamley vind die meeste van die herstel in die eerste ses maande plaas.

“Na ses maande bereik die herstelproses ‘n plato,” sê hy.

Shamley het Ferreira vyf keer na die ongeluk geëvalueer en is van mening dat hy in die toekoms sal sukkel om te werk of ‘n betekenisvolle loopbaan te hê as gevolg van die aard van sy breinbeserings.

Hy het ook gesê dat Ferreira nooit werklik onafhanklik sal kan wees of alleen sal kan woon nie.

Menseverhoudinge en spesifiek ‘n verhouding met die teenoorgestelde geslag sal volgens Shamley uitdagend wees omdat Ferreira buierig is en nie altyd sy emosies kan beheer nie.

Verder is daar bevind dat sy breinkapasiteit verswak en dat hy op skoolvlak sukkel om met Graad 7-werk by te hou.

Shamley is een van verskeie getuies wat Semitjie se vonnis sal help bepaal nadat hy vroeër vanjaar op aanklag van roekelose en nalatige bestuur skuldig bevind is.

Landdros Abdul Khan het die saak tot 20 November uitgestel wanneer die hof die getuienis van ‘n psigiater oor Ferreira se geestestoestand sal aanhoor.

In ‘n onderhoud met die news het Ferreira se pa, Paul gesê dat alhoewel die diagnose ontstellend is sal hy en sy vrou Priscilla aanhou hoop dat hul seun beterskap sal toon.

“As ‘n ouer sal jy altyd aanhou hoop,” sê hy.

Hy voeg by dat geloof die grootste rede is waarom sy gesin tot dusver die tragedie kon deurstaan.

Paul sê dat Semitjie se skuldigbevinding ‘n verligting vir die gesin was maar dat die duur van die saak tot en met vonnisoplegging uitputtend raak.

Verwante artikels:

• Semitjie glo depressief na Ferreira-ongeluk

• Blue light court case: driver blames Ferreira

• Mmemezi-bestuurder druip gevorderde bestuurstoets

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button