MunicipalNews

Klankgreep: Wit plakkers spat uitmekaar

Min gaan Munsieville toe, party het alternatiewe verblyf gekry terwyl ander nog moet besluit.

Tydens ‘n vergadering tussen munisipale owerhede en die wit plakkers van Kroningspark het dit aan die lig gekom dat slegs 23 uit die amper 300 inwoners voorlopig van plan is om na Munsieville te verhuis.

Die hof het in Augustus vanjaar beslis dat die wit plakkers na dié plakkerskamp moet verhuis waar hulle met ander rasse geïntegreer sal word.

Die beslissing het gemengde gevoelens veroorsaak en soos wat die spertyd nader kom (29 November vir kinderlose huishoudings en 15 Desember vir huishoudings met kinders), lyk dit of die eens hegte familie uitmekaar spat.

Kampbestuurders Irene en Hugo van Niekerk het behuising op ‘n kleinhoewe elders aan die Wes-Rand gekry. Wit plakkers van so ver as Brakpan en Pretoria sal in die nuwe jaar by hulle aansluit.

Daar is ook verblyf op ‘n kleinhoewe buite Krugersdorp aangebied vir dié wat nie saam met die Van Niekerks trek nie.

Vir dié wat daardie opsie oorweeg is daar streng voorwaardes aangesien dit slegs vir wittes beskikbaar gestel word.

Vir dié wat in veelrassige verhoudings is, het die deure daar toegegaan.

Die news het ‘n onderhoud met Kroningspark-inwoner Jacob Jovner gevoer wat sê dat dié opsie die beste vir hom is omdat hy bang is om na Munsieville te verhuis.

Jovner is in die tagtigerjare twee plase in Zimbabwe kwyt as gevolg van politieke onrus en hy vrees dat die geskiedenis hom sal herhaal.

Luister gerus na meer oor sy lewensverhaal en hoe hy in Kroningspark beland het deur op die aangehegte klankgreep te kliek:

https://soundcloud.com/sonette-reid/kroningspark

Kroningspark-inwoner Jacob Jovner is een van die inwoners wat weier om Munsieville toe te trek.
Kroningspark-inwoner Jacob Jovner is een van die inwoners wat weier om Munsieville toe te trek.

Raadslid vir die VF Plus in Mogale City Amanda de Lange wat ook die vergadering bygewoon het, sê dat die party alles gaan doen om integrasie vlot te laat verloop vir dié wat na Munsieville verhuis.

“Ons tree reeds voorkomend op om konflik te vermy, maar dis nie juis nodig nie omdat die mense van Munsieville groot bereidwilligheid toon om saam met Kroningspark se mense te woon,” sê sy.

“Munsieville-inwoners het selfs aangebied om hulle te help trek.”

Volgens De Lange is dit op skrif dat die parkinwoners wat na Munsieville verhuis in die toekoms vir HOP-behuising in aanmerking sal kom.

Verwante artikels:

• A bleak future for Coronation Park squatters?

• White squatters welcomed: “This is nobody’s land but God’s land”

• Wit plakker vertel van armoede

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button