Local newsNews

Mogale City kan nie help, sê DA

Die DA sê die elektrisiteit word nie deur Mogale City Plaaslike Munisipaliteit verskaf nie, maar deur West Rand Power Distributors, 'n privaat maatskappy.

Die elektrisiteitsprobleme wat inwoners van West Village warm onder die kraag het, geniet nou selfs nasionale mediadekking.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters se Patrick Sindane, ‘n EFF-lid van die provinsiale wetgewer het Maandag 13 Oktober ‘n dringende vergadering met die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gereël nadat ander politieke partye soos die DA glo nie wou help nie.

DA-raadslid Matthys van Tonder sê wat egter nie genoem is nie, is dat die elektrisiteit nie deur Mogale City Plaaslike Munisipaliteit verskaf word nie, maar deur West Rand Power Distributors (WRPD), ‘n privaat maatskappy wat ingevolge ‘n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) handel dryf.

Die elektrisiteit wat WRPD versprei kom direk van Eskom af.

“Die munisipaliteit is dus glad nie betrokke by kragverspreiding of -voorsiening in West Village nie. Ek het dit al menigmale aan die inwoners van West Village verduidelik.”

Die netwerk wat die elektrisiteit in West Village voorsien is aansienlik ouer as dié wat Mogale City gebruik en dit kan tot R40 miljoen kos om dit op te gradeer. Dié bedrag kan ‘n groot gedeelte van Muldersdrift van elektrisiteit voorsien, terwyl die stelsel slegs ongeveer 500 mense van elektrisiteit sal voorsien.

“Die elektrisiteitsinfrastruktuur is dus nie versoenbaar met dié van Mogale City nie. Die ANC-beheerde stadsraad sê hulle ‘slaan ag op die probleem’ maar wat hulle presies doen, is onduidelik,” verduidelik Van Tonder.

“Indien die EFF die saak deeglik ondersoek het, sou hulle dit geweet het. Hulle sou ook geweet het dat die reguleerder by wie die saak aangemeld moet word Nersa is en nie Mogale City nie.”

Van Tonder sê oudergewoonte dui die EFF se gedrag op ‘n wanpersepsie van die proses en ‘n gebrek aan insig.

“Die aandag-soekende gedrag waarmee die EFF die mense mislei, het op niks uitgeloop nie, want die kragtoevoer na West Village het reeds weer daar gefaal.”

Van Tonder het reeds begin om met Nersa kontak te maak om die elektrisiteitsprobleme op te los.

“Daar is ander probleme waarmee die DA wel kan help, soos om die paaie geteer te kry of die slaggate reg te maak, die gras te laat sny of padtekens te vervang. Die elektrisiteitsituasie is net buite ons beheer,” sê Van Tonder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button