CrimeLocal newsNews

Agt jaar agter tralies vir mislukte poging om te laat vermoor

Na vier jaar in die hof word beslissing gemaak.

Krugersdorp-inwoner Elize Vermaak is Woensdag 22 Oktober geboei en na die Johannesburgse Gevangenis geneem waar sy agt jaar sal deurbring weens poging tot moord op haar destydse man Jacques Vermaak.

Vermaak en haar twee medepligtiges vir wie sy R50 000 sou betaal om haar man te vermoor is in 2010 na ‘n indiepte ondersoek deur speurder adjudant-offisier Ben Booysen in hegtenis geneem.

Medepligtiges Chris Koch, 39, wat ook agt jaar opgelê is, Heinrich Croft, 27, wat intussen oorlede is en Vermaak is voorheen deur die hof skuldig bevind op aanklag van poging tot moord op Jacques Vermaak.

Die slagoffer het oorleef nadat hy op Valentynsdag in 2010 in sy huis in Kenmare 14 keer met ‘n mes gesteek is terwyl sy twee kinders in die huis was.

Die hof het gehoor dat Vermaak aanvanklik aan die polisie vertel het dat sy deur die twee mans beroof is en dat sy met ‘n mes gedreig en gedwing is om hulle na haar huis te neem waar hulle haar man aangeval het.

Sy het later erken dat hulle kennisse is en dat sy saam met beskuldigde nommer een, Koch beplan het om haar man te vermoor.

Booysen wat die saak ondersoek het, het onraad vermoed toe hy opgelet het dat Vermaak nog al haar juwele aangehad het en dat niks uit die huis gesteel is waar die aanval plaasgevind het nie.

“Ek het besluit om verdere ondersoek in te stel en het daardie selfde aand vir Koch en Croft onder ‘n boom naby die huis gevind. Albei se klere was vol bloed en daar is later bevind dat hulle ten tyde van die arrestasie onder die invloed van drank en dwelms was,” vertel Booysen.

Vermaak en haar medepligtiges is later op borgtog van R5 000 vrygelaat. Koch het nie die borgvoorwaardes nagekom nie en is weer in aanhouding geplaas.

Vermaak het getuig dat sy dit wel met Koch bespreek het dat sy van haar man ontslae wou raak maar dat die aanval op 14 Februarie 2010 nie op haar aandrang gedoen is nie.

Sy het vertel hoe sy in haar huwelik mishandel is en minstens twee maal per maand deur haar man verkrag is. Sy was te skaam om dit te rapporteer of om regshulp te vra sodat sy van hom kon skei.

Sy het een geval in die hof genoem waartydens haar man haar na bewering in die badkamer van hul huis verkrag het.

“My knieë was stukkend gestamp teen die grond en ek het inwendige beserings opgedoen,” het sy getuig.

Sy het ook genoem dat haar man na bewering verslaaf is aan pornografie en dat sy gereeld die “toertjies moet uitvoer wat hy op pornografiese video’s gesien het”.

“Ek sou betaal word volgens my ‘performance’, dis die enigste inkomste wat ek as ‘n hulpelose huisvrou gehad het,” het sy gesê.

Senior staatsaanklaer Mickey Teshner het aan die hof gesê dat daar herhaaldelik bewys is dat Vermaak allermins die hulpelose vrou is wat sy wou voorgee en dat haar poging om haar man te laat vermoor ‘n bewys daarvan is.

Tydens die vonnisoplegging het streekslanddros Keith Page gesê dat die hof nooit kon vasstel dat haar man haar mishandel het nie.

Familielede en vriende was geskok oor die hofbeslissing en ‘n emosionele Vermaak het gesnik toe sy in die getuiebank geboei is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button