Pragtuin in wording by Boltonia Park
Die Boltonia Park kan een van die dae sy eie Botaniese Tuin hê, spot inwoner.
Die Boltonia Park sal na alle waarskynlikheid volgende jaar met die koms van lente ‘n pragtuin vol kleur wees.
Robein Kwekery in Krugersdorp-Wes het onlangs ongeveer R1 500 se plante vir die park geskenk nadat hulle vroeër ingestem het om te help om van dié park ‘n plek te maak waar kinders met trots al hulle energie kan uitspeel.
Dit is reeds die tweede bydrae wat die kwekery gee sedert hulle einde Augustus deur die news-span genader is.
Madeleine Botha, wat die kwekery saam met haar man Robert besit, sê hulle het voorheen nie van die park se bestaan geweet nie, maar is bly dat hulle nou deel daarvan kan wees.
“Ons maak ‘n verskil in ander se lewens; ons sit ‘n glimlag op hulle gesigte en dit is genoeg aansporing om betrokke te wees en betrokke te bly.”
Lebo Motswere wat die park met verskeie ander vrywilligers in die buurt begin ontwikkel het, kon nie genoeg dankie sê nie. Hulle oogmerk is om kinders uit die straat en uit kattekwaad te hou deur vir hulle ‘n plek te gee waar hulle net kind kan wees, ‘n bal kan skop en rondhardloop.
“Die tuin begin fantasties lyk! Een van die dae kan ons met ons eie Boltonia Botaniese Tuin spog,” skerts hy.
President Hyper en Armand du Plessis (‘n Mnr Suid-Afrika-finalis) het vroeër vandeesmaand ook onder andere plante, kompos en bome vir die park geskenk.
“Ek is regtig dankbaar vir al die hulp wat ons kry en bedank graag die news-span vir alles wat hulle sover kon regkry om die regte mense op ons pad te stuur.”
Die park het toue vir swaaie, verf en speelapparate nodig, en vertrou dat ‘n goedhartige samaritaan die lapa sal voltooi waaronder kinders in die vakansie sal kan sit en inkleur.
Kontak vir Motswere by 074 447 6647 of news-joernalis Jacobus Myburgh by 011 955 1130 vir meer inligting.
