Besigheid reik uit na kankerlyer
'n Besigheid van Noordheuwel het 'n kontantbedrag aan 'n kankerlyer geskenk.
‘n Bou- en siviele kontrakteur van Noordheuwel het besluit om in Kankerbewustheidsmaand ‘n kontantskenking aan die gemeenskap te doen.
André Allen, direkteur van A-Z Construction sê hulle het vir Hospice Wes-Gauteng, ‘n niewinsgewende organisasie wat palliatiewe sorg bied vir mense met terminale siektes, genader wat toe vir hulle ‘n kandidaat op hulle pad gestuur het.
Rozaan Erasmus, ‘n enkelma van drie kinders het twee jaar gelede gehoor sy het limfoomkanker en sê sedertdien is dit ‘n groot stryd.
“Ek het gehuil toe ek uitgevind het, want ek kon nie glo dat dit met my gebeur het nie – dit was vir my ‘n baie groot skok.”
Sy sê sy is die eerste persoon in haar familie wat met kanker gediagnoseer is en is tans in fase 4 nadat die kanker na haar lewer en rugmurg versprei het.
Dokters reken dat sy nie meer lank het om te leef nie en vir haar is dit nog baie onwerklik.
“Al waaraan ek tans kan dink is my kinders en wat vir hulle voorlê. Ek baklei hard terug vir hulle.”
Oor die R5 000-kontankskenking van A-Z Construction is sy baie dankbaar.
“Hulle is wonderlike mense! Ek is baie dankbaar vir dit wat hulle vir my doen.”
Jackie Botha, persoonlike assistent vir Allen sê sy kan die geld vir haar persoonlike behoeftes gebruik – nie noodwendig vir mediese sorg nie.
