CrimeLocal newsNews

Inbreker loop sy rieme styf

Daar is by twee huise in Kenmare ingebreek.

‘n Inwoner van Kenmare beplan om elders te gaan woon nadat daar reeds drie keer vanjaar by die huurhuis waar hy in Maart ingetrek het, ingebreek is.

Ryan Nortjé, wat in die konstruksiebedryf is en tans aan ‘n projek buite Krugersdorp werk, moes Donderdagoggend (30 Oktober) na 9vm hoor dat daar by sy huis ingebreek is.

“Die sekuriteitsmaatskappy by wie ek ‘n kontrak het, het my laat weet die alarm het afgegaan. Ek het my eksvrou gevra om te gaan kyk of alles reg is by die huis.”

Die oomblik toe sy by die huis in Meathstraat stilhou, het die verdagte een van die groot ruite van die huis met ‘n stoel stukkend gegooi en gevlug.

Dit lyk of hy deur dieselfde venster ingeklim het as die een waar inbrekers drie weke gelede toegang tot die huis verkry het. Die diefwering is tydens die vorige inbraak gebreek en Nortjé sê die venster is daarom nie weer oopgemaak nie.

“Ek weet nie hoe hy die venster dié keer oopgekry het nie.”

Marcel Jonker, ‘n patrollie-offisier van Dowry was binne oomblikke op die toneel nadat ‘n vrou in die omgewing hom laat weet het dat die alarm van Nortjé se huis afgegaan het.

Hy en lede van die Sektor 8 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het onmiddellik nadat hulle gehoor het dat inwoners die verdagte gesien het na hom begin soek.

‘n Lid van Sektor 8 het toe laat weet dat daar ‘n alarm in Donegalstraat, twee strate van waar die vorige inbraak oomblikke tevore was, afgegaan het.

Jonker is dadelik daarheen en kon die verdagte na ‘n jaagtog aankeer.

Hy sê die verdagte het gesê dat hulle drie is, maar die ander twee het gevlug.

‘n Gesteelde Xbox-televisiespeletjie, ‘n selfoon en juwele is teruggevind.

Nortjé bedank almal wat gehelp het om die inbreker aan te keer.

“Ek is dankbaar vir Dowry, Sektor 8 en die polisie vir hulle diens.”

Henry Carsons van Sektor 8 GPF sê hulle vermoed die verdagte is dieselfde een wat die vorige aand omstreeks 7.20nm sy hand deur ‘n venster by ‘n huis in Biddystraat gedruk het. Die eienaar het hom gesien en begin skree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button