Gesin verloor alles in brand
'n Familie se huishondjie het nie die verwoestende brand oorleef nie.
‘n Gesin van drie, met loseerders, het alles verloor na ‘n brand in hul huis in Krugersdorp-Wes uitgebreek het.
Die huis wat onlangs verkoop is, was teen sowat R900 000 gewaardeer en het Sondagaand 2 November tot op die grond afgebrand. Daar kon nog nie vasgestel word wat die brand veroorsaak het wat uitgebreek het terwyl die gesin by die bure gekuier het nie.
Die Smit-gesin beweer egter dat hul byna 45 minute vir Krugersdorp se nooddienste gewag het. “Ek onthou nog wat op televisie gewys het net voordat ons die klop aan die deur gehoor het. Dit was iemand wat die slegte nuus gebring het,” vertel Riaan Smit.
Ten spyte van die waardevolle inhoud van die huis wat hulle verloor het, is die gesin die hartseerste oor die items met sentimentele waarde en hul geliefde troeteldier Lizzy wat hulle verloor het.

Hulle ander twee honde het die gelukkig die brand oorleef. Lizzy, hulle huishondjie, was in die huis toe die brand uitgebreek het, verduidelik Chantalle Smit aan die news.
“Daar was goed in die huis wat ons geërf het, wat ‘n mens nooit weer kan terugkry of vervang nie,” vertel Riaan.
Die skade sluit onder andere ‘n waardevolle versameling film-dvd’s, ‘n duur stel leerbanke, drie plasmatelevisiestelle en ‘n MacBook Pro in wat Riaan vir sy werk gebruik het. “Selfs my kind se stootwaentjie is daarmee heen,” voeg Chantalle by.
Die gesin het letterlik net die klere oor wat hulle aangehad het, en moes selfs nuwe slaapklere gaan koop.
“Ons het niks nie, letterlik niks.”
Die paartjie se tweejarige dogter Alyssa het nie meer ‘n enkele speelding oor na die brand nie.

Hul loseerders, JP van der Merwe, ‘n musikant en musiekonderwyser, en die nuwe Mej Wes-Rand, Adeline Sauerman sal ook ‘n nuwe woonplek moet soek. “Ons kan die huis herbou en al ons besittings vervang, maar JP het al sy musiekinstrumente in die brand verloor,” vertel Riaan.
Die gesin bedank al die vriendelike vreemdelinge wat hulle in hul uur van nood kom ondersteun en help het.
“Dit is werklik wonderlik hoeveel mense ingespring het en ons gehelp het, spesifiek op die Sondagaand.”

Alhoewel die Smits en hul loseerders alles verloor het, bly hulle steeds positief.
“Ek moet net vir jou sê, daar is ‘n pluspunt na die brand – ons sou in elk geval getrek het maar nou hoef ons nie eers in te pak nie,” spot Riaan.
Enigiemand wat die Smits of hul loseerders wil help kan gerus vir pastoor Willie Smit by 082 556 5853 skakel.

