‘n Plaaslike judo-instrukteur is aangerand na ‘n ligte botsing in ‘n parkeerterrein in Krugerdorp se sentrale sakegebied.
Die insident het op 4 November plaasgevind toe Danie Bruwer per ongeluk in ‘n ander motor vasgetru het.
“Ek was besig om te parkeer toe die kar ewe skielik agter my verskyn,” beweer Bruwer.
Ooggetuies beweer dat hulle die ander motor in die parkeerarea sien injaag het. Nadat Bruwer se voertuig liggies teen die ander voertuig gestamp het, het hy gesien hoe die ander bestuurder in sy motor sit en skel en skree.
“Die volgende oomblik vlieg die man my in deur my oop venster en rand my aan. Hy het my minstens twee vuishoue deur die oop venster gegee.”
Bruwer beweer dat hy toe rustig uit sy motor geklim het en die aggressiewe bestuurder probeer kalmeer het. Alhoewel nie een van die motors enige skade opgedoen het nie, het die bestuurder van die ander motor op betaling vir skadevergoeding aangedring.
Toe Bruwer aanbeveel dat hulle die saak aan hulle onderskeie versekeraars moet oorlaat, is hy ‘n tweede keer aangerand en tussen die bene geskop.

“Ek het geen keuse gehad as om myself te verdedig en terug te veg.
“Ek het my verweer deur ‘n paar houe met die vuis te slaan en toe dit nie hom stuit nie met ‘n judotegniek grond toe gebring en hom in ‘n ‘n wurgposisie gekry.”
‘n Ooggetuie wat homself as Klaas voorgestel het, het ingespring en die twee uitmekaar probeer maak. Bruwer het daarna mediese behandeling ontvang en die insident by die polisie gerapporteer.
“Toevallig is ek tans besig om selfverdediging met my judostudente te behandel en die eerste beginsel is om konflik te vermy en weg te stap, wat ek glo ek na die beste van my vermoë toegepas het.”
