Egte boeremark ‘n belewenis
Nie te ver uit Krugersdorp nie is dié unieke kunsmark waar mens van die stadsrumoer kan ontsnap.
Tussen êrens en nêrens in Oaktree kom kunsliefhebbers maandeliks by ‘n egte boeremark byeen.
Kunstenaars van verskillende agtergronde kom elke eerste Saterdag van die maand hier bymekaar om hul nuutste en lekkerste tuisgemaakte skatte en happies uit te stal en te verkoop.
Die countrymusiek en die mooi landskap van Oaktree is die perfekte agtergrond vir hierdie unieke maandelikse boeremark.
“Daar word geen Chinese produkte of plastiekitems by hierdie boeremark toegelaat nie,” sê Jan Nel, een van die organiseerders van hierdie besonderse mark. ‘n Besoek aan die mark is soos ‘n skattejag tussen die wye verskeidenheid produkte – van skilderye, tuisgebakte brode, handgemaakte egteleer-items, smullekker kerrie-en-rys, boereworsrolletjies, modelvliegtuie tot decoupage-tekkies.
Tuisgemaakte roomys, rissiesouses, koekies en selfs tuisgestookte mampoer in verskeie geure was beslis ‘n buitengewone bederf. ‘n Gestremde kunstenaar van die SA Vereniging vir Mond- en Voetskilders, Anton van den Berg het markgangers verstom met ‘n demonstrasie van hoe hy kuns skep.
Phillip van Zyl, wat ook gestremd is, laat hom nie onderkry nie en het sy heerlike konfyte, blatjang, ingelegde vrugte en ander happies te koop aangebied.
‘n Uitstalling van die beroemde mikromini karre het gesorg vir vermaak vir die petrolkoppe, terwyl Nanda Kruger se denim-versierde Volla die aandag van oud en jonk getrek het.
Die volgende boeremark word op 6 Desember gehou. Kontak gerus vir Jan Nel by 081 880 1130 vir meer inligting want dit is iets wat mens definitief nie moet misloop nie.
Verwante artikels:
• Paradys van plaaslike produkte en handewerk
