‘n Yslike kontantbeloning word aangebied vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming van ‘n jarelange werknemer wat na bewering vir Phyllis en Isabel Mansfield aangerand het.
Soos gewoonlik het Phyllis en haar man Lukas Snyman net voor dagbreek opgestaan om te gesels voordat hulle driejarige dogter wakker word.
“Dit is gewoonlik ons spesiale alleentyd,” vertel die verpletterde Snyman aan die news.
Na ‘n koppie koffie is Phyllis met hulle honde na die stalle toe op die plot waar hulle woon om vir die perde voer te gee.
Daarna is sy terug huis toe met die honde. Teen daardie tyd was klein Annabelle al wakker en het by haar pa in die kombuis gesit terwyl hy vir die gesin ontbyt maak.
“Annabelle het later aangedring om saam met haar ma stalle toe te stap om die perde te laat uitgaan. Die volgende oomblik begin die honde tekere gaan en ek hoor my vrou skree.”
Net daarna het sy vol bloed in die kombuisdeur gestaan. Snyman het eers gedink dat sy vrou deur die honde aangeval is maar dit het aan die lig gekom dat sy met ‘n metaalpyn geslaan is en na ‘n leë perdestal gesleep is waar die aanvaller glo beplan het om haar verder aan te rand.
Sy het herhaaldelik vir Snyman haar aanvaller, wat glo ‘n werker op die plot is, se naam gesê voordat sy haar bewussyn verloor het.
Nadat Snyman sy pistool in die slaapkamer gaan haal het, het hy om die huis gehardloop om te kyk waar sy dogter is. Dis toe dat hy op sy skoonma, Isabel Mansfield afkom wat ook vol bloed was. Sy is net soos haar dogter ernstig met ‘n metaalpyp aangerand toe sy gaan ondersoek instel het nadat sy die rumoer van die honde gehoor het. Isabel het paniekbevange dieselfde persoon se naam gesê. Snyman neem haar toe na die kombuis toe waar sy vrou bloeiend en bewusteloos gelê het.
“Toe ek die kombuisdeur oopmaak, staan Annabelle agter my,” onthou hy.
‘n Verskrikte Snyman sluit toe homself, sy dogter, vrou en skoonma veilig in die huis toe, en bel dadelik die EPR gewapende reaksie-eenheid. Daarna het hy sy vrou en skoonma na die noodgevalle-afdeling by Netcare Krugersdorp Hospitaal geneem.

In ‘n speelberadingsessie het dit aan die lig gekom dat Annabelle die hele gru-aanval gesien het. Sy het in ‘n leë stal vol saagsels weggekruip. Sy kon ook die aanvaller identifiseer.
“My vrou was sewe uur lank in die teater. Sy het albei haar arms sowel as haar gewrigte gebreek; verskeie vingers en haar regterhandpalm is ook vergruis. My skoonma se arm is beseer, ‘n vinger aan haar linkerhand is vergruis en sy het oop wonde.
Isabel is reeds uit die hospitaal ontslaan en sterk by die huis aan terwyl Phyllis nog in die hospitaal is.
Snyman het rede om te glo dat dit ‘n wraakaanval was deur ‘n man wat sowat 18 jaar vir die familie werk. Hy het onlangs ‘n finale uitsettingsbevel ontvang om van die plot af te trek.
Die verdagte het gevlug en is nie weer gesien nie.
“Ek wil baie dankie sê vir al die ondersteuning van vriende, familie en sakekennisse, asook duisende dankies vir EPR, die privaat hospitaal se personeel, my dogtertjie se kleuterskool en ‘n besonderse dankie aan kolonel Meyambo van die Tarlton Polisie.”
Daar is ‘n R10 000 beloning vir enige iemand wat konkrete inligting kan verskaf wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte. Kontak kolonel Meyambo by 073 701 0757 vir meer inligting.
Verwante artikel:
