Grootste aanhanger aangenaam verras
Seun reël verrassingpartytjie vir sy ma met behulp van wynkelder.
‘n Gesoute senior burger van Krugersdorp was onlangs aangenaam verras deur haar gunstelinglafenis.
Joyce Nel is wat mens kan noem die grootste Namaqua-wynliefhebber in die dorp, en moontlik die land ook.
Toe haar seun Hennie Nel eendag agter ‘n Namaqua-wyntrok gery het, het hy hul eposadres neergeskryf en besluit om vir hulle van sy kostelike ma en haar liefde vir die spesifieke wyn te vertel.

Haar dogter Ansie Vermeulen het spottend aan die news verduidelik hoe haar ma letterlik van winkel tot winkel ry vir haar gunsteling oranjeboks-wyn.
Sou die winkel nie die wyn aanhou nie, weier Nel eenvoudig om enige iets daar te koop.
“Ouma is ook ‘n groot sportondersteuner en sy drink altyd ‘n heildronk op haar gunstelingrugbyspan, die Natalse Haaie,” vertel Vermeulen.
Nel is ook bekend vir haar rugbykreet, “Ploeg hom! Ploeg hom,” skerts Vermeulen.
Namaqua was toe so geraak deur die vermaaklike epos en het Nel geskakel om ‘n verrassingsbesoek vir sy ma te reël. Die partyjie wat by Keywest Estates gehou is, is selfs deur ‘n lewensgrote Namaqua-talisman asook die Johannesburgse takbestuurder vir Namaqua-wyn, Jean Claude White bygewoon.
Ouma Nel het ‘n pragtige geskenkpak met wyn en ‘n Namaqua-beursie ontvang.
‘n Wintersbaadjie sal later aan haar gepos word.
“Ek het dit regtig nie verwag nie,” sê Ouma Nel in haar skik.
