‘n Oproep oor ‘n skietery in die vroeë oggendure het buurtwagpatrolleerders uiteindelik na ‘n rooftoneel in Thorntonstraat gelei.
Die Wes Buurtwag Witpoortjie en die polisie het saam by die toneel opgedaag waar ‘n verlamde vrou pas aangerand en beroof is.
Daar word beweer dat die twee verdagtes toegang tot die huis deur ‘n venster sonder diefwering verkry het.

Hulle het elektroniese toerustings gebuit en in die eienaar se Opel Corsa-bakkie gevlug.
Die gesteelde voertuig is later in Adcockstraat in Chamdor opgespoor na ‘n botsing met ‘n ander motor.
Die verlamde slagoffer het aan die Buurtwag vertel dat een van die verdagtes op haar geklim het en haar beveel het om haar bene oop te maak. Sy het vir hom verduidelik dat dit nie moontlik is nie, siende dat sy verlam is.

Hy het haar eers met ‘n vuis geslaan en haar toe met haar kussing probeer versmoor.
Die huishulp het die lawaai gehoor en dadelik die noodknoppie gedruk.
Toe ADT se gewapende reaksie-eenheid op die toneel aankom, het die verdagtes gevlug en is steeds op vrye voet.
