Local newsNews

Oud-Krugersdorper maak haar debuut as skrywer

Dit was nie sommer ‘n bevlieging wat sy oornag gekry het nie, want Juliette se liefde vir perde is diep gesetel en bruis deur haar are van kleintyd af.

Digter, skrywer en lektor van die 1800’s, Ralph Waldo Emerson, het gesê, “Do not go where the path may lead, go instead where there is no path and leave a trail”.

Só ‘n vrou is Juliette Whelpton. Sy is ‘n passievolle skrywer wat die laaste paar jaar geen steen onaangeroer gelaat het om haar doel te bereik nie. Juliette het diep spore gaan trap op menig paaie wat deesdae onbewandeld in die stof van die Afrikaner se gisters lê, maar meer as dit het sy ‘n spoor gelos vir ander om te volg.

Die debuutroman uit haar pen, Fleur, het sopas verskyn en dit is die voorloper-verhaal van haar nuwe reeks Helde met Hoewe.

Die bevoorregtes wat dit reeds gelees het is dit almal eens dat hulle nie kan wag om die opvolgboeke onder oë te kry nie.

Tydens die bekendstelling, wat heel gepas gehou is tussen die perdestalle van Terrouges Equestre oos van Pretoria, het Trienie Oosthuysen die roman as volg opgesom:

Fleur is die boeiende verhaal van die perd van Generaal Christaan de Wet en hulle wedervaringe, soos vertel uit die perd se eie bek. Dit speel af tydens die Anglo-Boereoorlog: ‘n trotse stuk geskiedenis van dapper vegters wat helaas nie meer vandag vir ons skoolkinders geleer word nie. Die skryfster verdien ‘n pluimpie vir haar deeglike navorsing. Die verhaal word afgewissel met interessante gegewens, verduidelikende aantekeninge en oorlogfoto’s uit die tydperk.”

Oosthuysen, ‘n voormalige onderwyser en dosent in Afrikaans by Cambridge College, het gesê dat Fleur ‘n puik jeugverhaal is wat selfs volwassenes sal meevoer en dat dit ‘n boek is wat tuishoort op elke trotse Afrikaner se boekrak.

Nadine Whelpton straal van trots waar sy langs haar skrywerma Juliette staan tydens die boekbekendstelling. Juliette is ma van twee dogters wat haar sommer baie besig hou.
Nadine Whelpton straal van trots waar sy langs haar skrywerma Juliette staan tydens die boekbekendstelling. Juliette is ma van twee dogters wat haar sommer baie besig hou.

Vir langer as twee jaar reeds loop Juliette, soos sy dit stel “agter die hoefspore van Fleur aan“.

Dit alles het sy gedoen met die droom om die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog op ‘n verstaanbare wyse aan kinders te vertel – vanuit die perd se perspektief.

Dit was nie sommer ‘n bevlieging wat sy oornag gekry het nie, want Juliette se liefde vir perde is diep gesetel en bruis deur haar are van kleintyd af.

Tydens haar grootword-jare in Krugersdorp was hierdie edele diere reeds deel van haar lewe en vertel sy op haar spontane manier hoe sy haar eerste perd onthou.

“Die palomino, Rubi, met sy lang, spierwit maanhare en stert, het bekend gestaan as skoolperd. Rubi het bedags heerlik op die groen sportvelde tussen die kinders van Laerskool Burgershoop gewei en snags snoesig in die motorhuis van ons huisie reg oorkant die skool geslaap. Daar was later ook ander spesiale perde soos Lumier die spogdier, ‘n ratse Nooitgedacht-ponie wat gereeld sy kop deur die kamervenster gesteek het om na ons tienermeisie-drome te luister.“

Afgesien van ‘n diep liefde vir haar Afrikaner-erfenis, was nog perde-inspirasie wat haar na die pen laat gryp het haar dogter Carla se Arabierponie Dancing Gleam.

“Toe ek vir Dancing Gleam, seun van die legendariese Suid-Afrikaanse Arabierkampioen Silvern Gleam sien, het dit vir my gevoel asof ek vir ‘n oomblik terug is in die verlede, meer as 100 jaar gelede. Ek het dieselfde eienskappe van lojaliteit, uithouvermoë en intelligensie in hom raakgesien as wat Fleur gehad het,“ sê Juliette.

Die bekende Anglo-Boereoorlogkenner, Prof Fransjohan Pretorius het Juliette gekomplimenteer met haar vermoë om in Fleur se kop te kon klim. Juliette sê dat jare se ondervinding en perde dophou definitief ‘n groot rol gespeel het hierin.

Lesers kan maar solank hulle brille afstof, want die volgende verhaal wat handel oor Bokkie, die geliefde merrie van Generaal De la Rey, is volgende aan die beurt.

Fleur is tans beskikbaar by Grafitti boeke Zambezi, die Afrikaanse winkel by die Erfenisstigting op die terrein van die Voortrekkermonument, by die webwerf boekwinkel www.groep7.co.za asook by Grafitti Zambezi in Pretoria. Dit kan ook direk vanaf die skrywer bestel word by juliette@researchconsultant.co.za .

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button