Rooiribbokkie verras paartjie
'n Paartjie word verras met 'n laataandbesoek deur 'n rooiribbokooitjie wat in Rangeview rondgedwaal het.
‘n Paartjie van Rangeview het in die nagtelike ure ‘n verrassingsbesoek ontvang.
William O’Riley en Janine van der Merwe het die aand van 11 November rustig met ‘n koppie koffie op hul stoep afgesluit toe hul onverwagte gas opdaag.
Janine het geglo dat sy ‘n bokkie in die straat gesien verbystap het.
“Het jy dit ook gesien?” vra sy vir William.
Hy spring toe dadelik in sy kar en ry stadig in die straat af op soek na die bokkie. Toe hy haar opspoor het hy stadig agter die verskrikte bokkie aangery tot die diertjie agter ‘n struik by hulle bure gaan lê het.
Janine het by die hek gestaan en wag.
“Ons het die bokkie versigtig in die straat af na ons erf toe gelok. Ons het haar veilig na die motorhuis gelei waar sy die nag geslaap het,” verduidelik Janine.
Hulle het ‘n kennis, wat hulle al tevore gehelp het om wild te verskuif, gevra om hulle te kom help met die bokkie.
Hy het die rooiribbokkie veilig na sy kleinhoewe in Tarlton geneem waar sy tussen verskeie ander diere wat hy grootgemaak het, gaan woon.
“Ons hoop dat sy daar ‘n lang en gesonde lewe sal lei,” sê William.
