GPF reël toktokkie-pret in Kenmare
Seerowers, feetjies, zombies en selfs Batman is onlangs in Kenmare gewaar.
Ouers en lede van die Sektor 8 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het onlangs die buurt se kinders met ‘n outydse straatspeletjie in Kenmare vermaak.
Seerowers, feetjies, zombies en selfs Kenmare se eie Batman was op soek na verskeie lekkernye in die buurt.
Die prettige skattejag was ‘n kombinasie van die Amerikaanse trick or treat en Suid-Afrika se eie toktokkie-speletjie.
Die doel daarvan was om vir eens die fokus van geweld en misdaad na familiepret te verskuif.
“Ons het hierdie geleentheid geskep vir die kinders van ons gemeenskap sodat hulle ook outydse pret in hulle eie woonbuurte onder veilige toesig kon geniet,” vertel Henry Carson van die GPF.
Sowat 40 kinders het van die een huis na die ander gestap en aan die deure gaan klop vir hulle verrassings. Huisbewoners was gereed vir hulle en het lekkers uitgedeel, vasvrakompetisies en skattejagte gehou, skeerroom gesmeer en waterballonne gegooi.
“Die GPF het die strate afgebaken sodat die kinders veilig daar kon baljaar en hulself geniet. Dit was groot pret en ons het positiewe terugvoering ontvang.”
