Mislei voor die groot trek
Plakkers glo om die bos gelei deur hulle eie mense.
Alhoewel meer as die helfte van die Kroningspark-karavaanparkinwoners al ander woonplek gekry het na ‘n uitsettingsbevel, is daar steeds ‘n handjievol inwoners in die park.
‘n Jarelange parkinwoner, Johannes van Biljon het besluit om vir die news te vertel van die beweerde leë beloftes en leuens van die kamp se bestuurders sowel as die Mogale City stadsraad voor die plakkerskamp se groot trek na Munsieville.
Volgens Van Biljon het hy die parkbestuurders aanvanklik as vriende beskou maar sy oë het vinnig oopgegaan soos die tyd aangebreek het om te trek.
Die parkbestuurders het vroeër vanjaar die nuus van die hofbevel aan die inwoners oorgedra dat hulle die park moet verlaat.
Die inwoners is glo nie toegelaat om self die hofbevel te lees nie en hulle is gesê om na die Mogale City stadsraadkantore toe te gaan as hulle dit wou sien.
In die vergadering vroeër vanjaar is daar ook beweer dat die inwoners boumateriaal sou ontvang om vir hulself huisies op te rig.
Verder word daar beweer dat die parkbestuurders die inwoners beloof het dat lede van die stadsraad hulle sal help om die houthuise af te slaan en weer in Munsieville op te slaan.
Van Biljon sê dat die bestuur selfs aan hom gesê het dat daar voertuie beskikbaar sal wees om hul karavane en sleepwaens tot in Munsieville te sleep, maar daar was nie.
Die parkbestuurders het die inwoners gerus gestel deur te sê dat as die reëlings vir die trek nie getref word nie, hulle ‘n hofbevel sal kry om die sperdatum te verleng.
“Niemand het te veel geraas hieroor gemaak nie; ons het hulle vertrou om in ons beste belang op te tree.”
Van Biljon het ook verstaan dat die nuwe tydelike huisvesting in Munsieville gelykstaande sou wees aan hul huidige leefomstandighede in die park. Nadat sommige inwoners uit die park getrek het, het die bestuur die oorblywende inwoners gerus gestel dat hul moontlik in die park sal kan bly tot in die nuwe jaar omdat daar so gesloer word met die oprigting van die tydelike huise.
“Mense het onder mekaar begin praat; daar was ‘n groot groep wat nie Munsieville toe wou gaan nie alhoewel hulle name oorspronklik opgegee was.”
Na verskeie besoeke aan die ou Munsieville-ashoop waar hulle gevestig gaan word, het Van Biljon agtergekom dat die huisies nie net uitmekaar val nie maar ook dat die plakkers wat oorspronklik in die Paul Krugersaal in Krugersdorp-Wes gewoon het, beter opgerigte huise ontvang het.
Die inwoners is in kennis gestel dat hulle saam met stadsraadslede die huisies kan besoek voor die groot trek.
“Niemand het opgedaag vir die sogenaamde besoek nie.”
Hy het vroeg een oggend na Munsieville gegaan om die ontwikkeling van die huise te ondersoek, en met sy aankoms was die eerste vrag met inwoners se besittings reeds daar.
“Die sinkhuisies is te na aan mekaar opgerig. B die park moes die gaping tussen die huise minstens vyf meter wees.” Hy vertel verder van die skeure in die sinkplate, die ruwe houtpale en die dakplate wat met gewone spykers aanmekaar gesit is. Volgens Van Biljon is dit nie voldoende nie.
“Daar is vir die inwoners gesê hulle gaan ordentlike huisies kry en as ‘n familie saam na Munsieville sal gaan.”
Met die aankoms van die Rooimiere op 31 Oktober het die plakkers saam met Vryheidsfront Plus-verteenwoordiger Amanda de Lange onder die trok gaan om die trekdatum te laat uitstel. Besoek die news se webtuiste www.krugersdorpnews.co.za vir die volledige artikel en video-opname.
Daar is later aan De Lange gesê dat die parkbestuurders aan hul prokureur goedkeuring gegee het vir die Munsieville-huisies, maar sommige inwoners voel verraai.
Van Biljon het nou aanbeweeg na groener weivelde en doen Bybelstudie en dwelmmisbruikberading vir die jeug in die dorp.
“Ek sal nooit vergeet hoe die zombies vroeg elke oggend uit die park beweeg het om ‘n regmaker te gaan kry vir die dag nie. Dit was ‘n dwelmnes.”
Verwante artikels:
• VIDEO: Pandemonium onder Kroningsparkplakkers
• Video: Kroningspark-verskuiwing nou ‘n realiteit
• Video: Heelwat werk wag in Munsieville
