Local newsNews

Diabetes ken geen ouderdom nie

Die Netcare Krugersdorp Hospitaal het op Wêreld Diabetesdag bewustheid oor die toestand probeer skep.

Die Netcare Krugersdorp Hospitaal het op Wêreld Diabetesdag amper 600 mense vir diabetes in ‘n tent buite die hospitaal getoets.

Diabetes is ‘n toestand wat ontstaan wanneer ‘n mens se pankreas nie meer nie, of te min, insulien vervaardig en die bloedsuikervlakke laat styg.

Verlede Vrydag 14 November kon personeel, pasiënte en lede van die publiek hulle laat toets vir diabetes en ook meer inligting daaroor kry.

Suster Joey Nortjé het gesê die dag word jaarliks gehou om mense van diabetes – in die volksmond bekend as suikersiekte – bewus te maak.

“Baie mense weet nie wat suikersiekte behels of hoe om dit te voorkom wanneer die gevaarligte begin flikker nie. Wanneer die toetse wys dat mense aan diabetes ly of kan ly, verwys ons hulle na die dieetkundige by die diabeteskliniek by die hospitaal.”

Sy het gesê as dit vroegtydig opgespoor word kan baie risikofaktore reeds vroeg uitgeskakel word.

“Komplikasies met niere en sig is van die faktore wat met diabetes gepaard gaan. Met tyd pak ‘n mens se organe op as dit nie reg behandel word nie.”

As gevolg van swak bloedsomloop kan mens selfs jou been verloor. Volgens Nortjé is die beginstadium wanneer die tone begin swart verkleur.

Motlalentoa Motsoane, die hospitaal se hoofbestuurder het gesê swanger vroue is ook meer kwesbaar vir diabetes.

“Swanger vroue kan makliker diabetes kry en dit kan ‘n uitwerking op die bevalling hê. Dit is nog belangriker dat dié vroue hulleself gereeld laat toets.”

Hy het beklemtoon dat diabetes te eniger tyd by enigiemand gediagnoseer kan word, want “diabetes het nie ‘n ouderdom nie – selfs tieners word deesdae met diabetes gediagnoseer.” Motsoane glo dit is deels omdat kinders nie meer baie aktief is nie.

“Oorgewig en verkeerde koskeuses dra ook daartoe by en as dit eers by ‘n mens gediagnoseer word, word dit al hoe moeiliker om te behandel.”

• Wêreld Diabetesdag word elke jaar op 14 November gevier omdat dit die geboortedag van Frederick Banting is wat insulien saam met Charles Best ontdek het. Dié dag word nou wêreldwyd erken en ook amptelik deur die Verenigde Nasies.

Verwante artikels:

• Hospital celebrates Diabetes Appreciation Day

• Hundreds get tested for heart-related conditions

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button