CrimeNews

Vrou in dorp se dwelmnes aangeval

Die polisie is skynbaar te besig om 'n slagoffer in Sivewrightstraat te help want hulle moes 'n lyk vervoer.

‘n Vrou van Wentworthpark vrees vir haar lewe nadat sy aangeval en beroof is op pad winkel toe in Krugersdorp se besige dwelmnes.

Die slagoffer wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, ry gewoonlik met die agterpaadjies van Krugersdorp om die verkeer te vermy.

Sy was op haar bromponie in Sivewrightstraat op 10 November, toe twee beweerde buitelanders voor haar inspring en haar van haar bromponie afstamp.

“Ek is seker hulle hou die strate dop,” het die slagoffer gesê.

Die verdagtes het haar van haar tablet, ID en geld beroof.

Sy het toe vinnig op haar bromponie geklim en na ‘n besigheid in Luipaardstraat gejaag om hulp te kry.

“Ek is bang vir hulle,” het sy benoud vir die news gesê.

Haar noodkreet het op dowe ore geval toe sy die polisie skakel en die lid vir haar sê dat hulle nie na haar toe kon gaan nie.

Hulle het skynbaar nie ‘n voertuig gehad nie en was besig om ‘n lyk hospitaal toe te vervoer.

Moedeloos is sy terug huis toe waarna haar man haar polisiestasie toe geneem het om ‘n verklaring af te lê.

Teen die Vrydag het niemand haar nog gekontak in verband met die roof nie.

Sy het wel Woensdag ‘n sms ontvang dat ‘n konstabel van die stasie haar sou kontak.

Die slagoffer vertel aan die news hoe sy die verdagtes in ‘n wit huis op die hoek van Sivewright- en Vleistraat sien inhardloop het.

“Daar word niks aan die buitelanders gedoen wat in ons strate op ons teer nie.”

Die sektor 4 Gemeenskapspolisiëringforum (GPF) het haar ook in die steek gelaat toe sy hulle gekontak het en niemand tot haar redding gekom het nie.

“Die buitelanders sal jou kom soek en jou doodmaak,” vertel sy vreesbevange.

Die news het die woordvoerders van die polisie en die GPF gekontak en wag steeds vir terugvoering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button