Poeding hou 95-jarige springlewendig
'n Rangeview-inwoner het onlangs sy 95ste verjaardag gevier.
Op 95-jarige ouderdom stap Rangeview-inwoner Pieter Grey steeds 2,2km per dag en sê hy voel perdfris en gesond. Sy geheim?
“My vrou sorg nog elke dag vir nagereg!”
As 90-jarige het hy bewys dat enigiemand tegnologie kan baasraak. Hy ontvang verjaarsdagwense deur video-oproepe op sy skootrekenaar en noem dat hy dit geniet om op die internet rond te swerf.
Om sy brein fiks te hou vorm ‘n blokkiesraaisel of suduko-kopkrapper deel van sy daaglikse roetine.
Pieter is op 17 November 1919 op ‘n plaas in die omgewing van Morgenzon in Mpumalanga as die jongste van vyf kinders gebore. In 1936 het hy aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer waarna hy in 1939 sy studies in onderwys aan die Normaal Kollege in Pretoria voltooi het.
Die daaropvolgende Januarie begin hy sy onderwysloopbaan, maar het vir eers net aflosposte gekry.
Twee jaar later in April 1942 sluit hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog by die Suid-Afrikaanse Leër aan en vertrek per skip in 1944 na die Noorde. Die Britse Leër het ‘n tekort aan offisiere gehad en hy is na die oorlogsfront toe gesekondeer. Daar is hy ernstig gewond.
Danksy uitstekende mediese sorg het hy volkome herstel.
Met die aankondiging dat die oorlog verby is, was hy een van die eerste soldate wat na Suid-Afrika teruggekeer het omdat die land onderwysers broodnodig gehad het. Hy het sy onderwysloopbaan in Augustus 1945 by ‘n Engelse skool in Germiston hervat.
Met sy belangstelling in Afrikaans en geskiedenis het hy later sy doktorsgraad in Geskiedenis behaal.
Vanaf 1948 tot einde 1962 het hy onderrig in Afrikaans by Krugersdorp High School gegee.
In 1954 tree hy in die huwelik met sy liefling Inge Visser, ‘n jong weduwee met ‘n vierjarige seuntjie. Uit die huwelik is nog ‘n seun gebore wat deesdae in Australië woon.
Sy eerste vrou en haar oudste seun het in 2002 kort na mekaar gesterf. Twee jaar later het hy weer in die huwelik getree, dié keer met Ida.
Pieter en Ida woon deesdae op die Panorama Landgoed en hy spog met vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Wanneer hy lus het vir ‘n blaaskans uit die stad, pak hulle hul tassies en gaan hou vakansie in die Kruger Wildtuin, sy gunsteling vakansiebestemming.
