Local newsNews

Kroeg steeds oop ten spyte van brand

Herstelwerk sal binnekort aan die Jenny's Pub in Muldersdrift begin nadat dit verlede maand nagenoeg R3 miljoen se skade tydens 'n brand opgedoen het.

Die Krugersdorpse Brandweer kan glo nie die oorsaak van die brand by Jenny’s Pub vroeër verlede maand bepaal nie.

Jenny Theron, eienaar van dié kroeg het gesê gemene spel word ook nie vermoed nie. Sy het beklemtoon dat alhoewel daar binnekort met herstelwerk begin gaan word, mense moet weet dat hulle deure nie toe is nie.

“Ons is nog die heeltyd oop. Al verskil is dat ons net nie ons volledige spyskaart kan aanbied nie, maar daar is verskeie alternatiewe.”

Die kroeg en die pizza-oond is nie tydens die brand beskadig nie. Volgens Jenny het hulle ‘n klein kombuis laat inrig waarin verskeie maaltye voorberei kan word.

“Ons het baie lekker aanbiedinge beskikbaar.”

Haar besigheid het ongeveer R3 miljoen se skade gely aangesien die kombuisarea met al die toerusting en kos in die brand vernietig is.

“Dit het ‘n groot effek op my besigheid omdat ek tans nie volledige etes kan voorsien nie. Kombuispersoneel se salarisse moet betaal word – dit alles is nog ‘n groot verlies vir my.”

Jenny het gesê die maande voor Kersfees is gewoonlik haar besigste omdat verskeie ondernemings haar kroeg vir onder meer jaareindfunksies gebruik.

“Maar ek hoop nou om voor die nuwe jaar weer aan die gang te wees. Mense kan maar weet ons gaan op Oujaarsaand groot makietie hou .”

Sy het geskerts dat die Jägermeister-masjien nog in volle werking is en dat sportgeesdriftiges dit gerus moet gaan probeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button