Silverstar sorg vir glimlagte
Silverstar het nagenoeg 200 bejaardes van Krugersdorp met verversings, vermaak en geskenke bederf.
Die plaaslike sanger Louw Viljoen het nagenoeg 160 bejaarde inwoners van Krugersdorp tydens ‘n Kersete, wat deur Silverstar gereël is, by die Krugersdorpse Raad vir die Versorging van Bejaardes (KCCA) vermaak.
Carin Furstenburg, koördineerder van die korporatiewe maatskaplike beleggingsprogram by Silverstar het gesê hierdie funksie word jaarliks gehou waartydens hulle bejaardes van hulle nabye gemeenskap aan die Wes-Rand met verversings, vermaak en geskenke kom bederf.
“Vir baie van die bejaardes is hierdie die enigste geleentheid wat hulle het om ‘n optrede deur ‘n sanger te kan bywoon omdat baie dit nie kan bekostig nie.”
Sy het gesê dit is vir hulle lekker om die glimlagte op die bejaarde mense se gesigte te sien.
“Ons almal het ‘n passie vir mense en om die geluk op hulle gesigte te sien en om te weet dat hulle die spesiale bederfgeleentheid geniet, bring weer glimlagte op ons gesigte.”
Mareli de la Hunt-Van der Merwe, bestuurder van KCCA het gesê hulle is baie dankbaar dat Silverstar vanjaar besluit het om hulle bejaardes te bederf.
“Ons sien om na bejaardes wat alleen bly, maar nie die geld het om deur die week besig te bly nie,” het sy gesê.
“Daarom bied ons weekliks verskeie vermaakgeleenthede aan wat gevolg word deur ‘n voedsame maaltyd voordat hulle weer huiswaarts keer.”
Vir sowat twee uur lank het die bejaardes gekuier, gelag en hope pret en verversings gehad om die dag tevrede af te sluit.
