Local newsNewsUpdate

Sussie is tuis

Sussie is veilig by die huis nadat sy vermoedelik ontvoer is.

Die Crament-gesin van Quelleriepark is behoorlik in hul noppies na die terugkeer van hulle geliefde Sussie, wat Saterdag 29 November vermoedelik van hul sypaadjie af ontvoer is.

‘n Barmhartige samaritaan het vir Sussie by die stopstraat in Schoemanstraat opgelaai en huis toe geneem om te versorg totdat hulle die vierpotige se eienaar kon opspoor.

Sussie is vermoedelik deur die ontvoerders afgelaai aangesien dit vir haar onmoontlik is om in haar toestand so ver te stap.

Coreen Crament was desperaat om haar vierpotige vriend op te spoor en het op sosiale media en selfs pamflette staatgemaak om die nuus van Sussie se verdwyning te versprei.

Coreen se noodkreet is op die news se webblad geplaas en 15 minute later het sy ‘n sms-boodskap ontvang rakende die veiligheid van haar hond.

“Ek het dadelik gebel en in trane uitgebars. My man het die foon by my geneem en met die tannie gesels,” het Coreen gesê.

Die paartjie het dadelik in hul motor geklim en hulle geliefde Sussie gaan haal.

Lien van Aswegen het die weerlose brakkie by die stopstraat gesien en besluit om haar op te laai omdat sy gevrees het vir Sussie se lewe.

“Ek is so dankbaar vir Lien. Sy het agtergekom Sussie kan nie self eet nie, en haar met ‘n spuit gevoer nes ek doen.”

Lien het Sussie veilig op haar plaas net buite Krugersdorp gehou.

“Ek wil net aan die gemeenskap baie dankie sê vir hulle hulp en ondersteuning met die soektog na Sussie. ‘n Spesiale dankie aan Lien en haar man wat my geliefde Sussie gered en bewaar het,” sê ‘n dankbare Coreen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button