Gee jy eerder vir Oscar of vir die ander?
Stem jy saam dat hierdie bedelaar sy geld met sy snaakse sêgoed en 'n vriendelike glimlag verdien?
Die news het ‘n rukkie terug ‘n inskrywing op facebook gesien wat sê: “Mens kan sien ons ry deur Krugersdorp met al die bedelaars en straatwerkers.”
Maar elke nou en dan word die motoriste wat daagliks deur die dorp ry met Oscar, die vriendelike bedelaar, se skreeusnaakse bedelborde bederf. Die ‘straatnar’ wat motoriste van oor tot oor laat glimlag met sy sogenaamde noodkrete van vergaande scenario’s is weer terug in die dorp om motoriste te vermaak.
Die news het verlede Augustus die eerste keer oor Oscar verslag gedoen. Ons wou by ons lesers weet wat hulle eerder sou doen: om vir Oscar ‘n paar rand in die hand te stop, of om vir die alombekende gesigte wat gereeld by verskeie Krugersdorpse verkeersligte bedel, geld te gee.
Bedelaars in Krugersdorp is bekend vir hulle kulkunsies, soos om voor te gee dat hulle gestremd is en vir motoriste leuens te vertel oor hul arme gesinslede wat by die huis sonder kos sit.
Daar is al bevestig dat meeste van die gereelde bedelaars in die dorp hulle geld op dwelms mors.
Vroeër die week het die news met ‘n bekende bedelaar in die dorp gesels wat nie net erken het hy is ‘n dwelmslaaf nie, maar ook dat hy die kos wat samaritane hom gee, verkoop om dwelmgeld te kry.
Maar Oscar sê hy is anders.
Nie net bedel hy in verskillende dorpe nie, hy bedel ook net as hy nie die dag ‘n werk het nie. Volgens Oscar bedel hy net vir kos aangesien hy enkellopend is en nie kinders het nie. Sodra hy genoeg geld vir kos het, soek hy weer werk.
Dit kom voor of motoriste eerder vir hom sal geld gee as vir die ander.
Voel jy dat Oscar elke sent verdien met sy slim sêgoed en vriendelike glimlag? Lewer gerus kommentaar, ons wil graag weet wat jou mening is.
