EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Raak in vervoering oor die verlede

'n Braai-connoisseur met 'n liefde vir die ou jare en kosmaak hoop dat die gemeenskap hom met dié liefde só kan help.

Die pad is stil.

As dit nie was vir die gekleurde vlae buite Ridley’s Auto Cradle, ‘n restaurant aan die Hekpoort-pad nie, sou ‘n mens dit misgekyk en reguit aangery het.

Hier is Allen Ridley, ‘n man met ‘n groot liefde vir kosmaak – hy is immers ‘n braai-connoisseur wat al aan internasionale kompetisies deelgeneem het – die eienaar.

Buiten hierdie feit is hy versot daarop om memorabilia en oudhede van die jare 60, 70 en 80 te versamel om dit in sy restaurant ten toon te stel.

“Voordat ek die restaurant verlede jaar gekoop het, was daar reeds verskeie oudhede wat die restaurant daardie karakter gegee het. Dit was daardie karakter wat jou laat voel het jy stap in ‘n ander tyd in.”

Baie van hierdie memorabilia, veral prente van ou motors, het die vorige eienaars saam met hulle geneem.

“Ek wil daarom mense van die gemeenskap nooi om my te help om daardie oorspronklike tema weer terug te bring.”

Ridley verduidelik dat dit enigiets kan wees van ‘n Marilyn Monroe-prent tot ‘n ou Coca-Cola-teken of selfs geroeste motors of motoronderdele.

“Vir jare lank het lede van verskeie motor- en motorfietsklubs hier bymekaargekom om mekaar se passie vir dié meganiese pragstukke te deel en te bewonder. Daardie liefde vir motors en motorfietse sal ek graag nog aan die lewe wil hou,” het hy gesê terwyl hy regstaan vir ‘n foto op een van sy geroeste motors by die ingang.

So vertel hy ook hoe hy as ‘n klein seuntjie by sy ouma en oupa op die plaas gekuier het en hoe hy altyd na die stories geluister het van hoe lekker die ou dae was.

“Dit is seker waar ek my liefde vir die jare wat verby is, gekry het en deesdae daarvan hou om deur tweedehandse winkels meegevoer te word en al die oudhede wat ek sien op te raap.”

Hy beplan om later vanjaar verskeie kosmaakkompetisies by die restaurant te hou.

“Ek is in vervoering wanneer ek kan kosmaak, maar meer opgewonde as ek kan kosmaak wanneer ‘n klomp petrolkoppe hulle motors en motorfietse hierheen bring om bewonder te word.”

Vir meer inligting oor hoe jy vir Ridley kan help of as jy sy restaurant wil besoek, kontak hom by 076 201 8345.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button